Wêreld Gesondheidsdag –Let op tekens van jou kolon
KANSA beklemtoon die belangrikheid van kolorektale gesondheid op Wêreld Gesondheidsdag (7 April). Kolorektale kanker is onder die top drie kankers vir mans en vroue, volgens die Nasionale Kankerregister (2019). Kolorektale kanker was vroeër met ouer volwassenes geassosieer, maar jonger volwassenes word deesdae meer gereeld hiermee gediagnoseer. KANSA is ten gunste van gereelde kanker siftingstoetse, veral as daar ’n familiegeskiedenis van kolorektale kanker is. As daar enige waarskuwingstekens is, maak ’n afspraak met ’n gesondheidspraktisyn en neem stappe om jou persoonlike kankerrisiko te verlaag. Sien infografieke:
English | Afrikaans | isiNdebele | isiXhosa | isiZulu | Sepedi |
seSotho | seTswana | siSwati | tshiVenda | xiTsonga
#CANSAColorectalCancer #ColorectalCancerAwareness #ActiveBalancedLifestyle
Kolorektale kanker in sy vroeë stadium wys geen simptome nie en kan dalk in jonger mense verkeerd gediagnoseer word. Daarom word dit soms laat gediagnoseer, wanneer dit reeds ver gevorder het of na ander liggaamsdele versprei het. Dit is dus belangrik om te weet wat normaal vir jou eie liggaam is, om die gevaartekens te ken en van familiegeskiedenis bewus te wees. Dis net so belangrik om gebruik te maak van voorkomende siftingstoetse vir kolorektale kanker, voordat simptome wys, en om nie te wag voordat jy ongemak ervaar nie.
Carima Adams, kankeroorwinnaar, verduidelik dat haar simptome nie korrek gediagnoseer was nie, “Ek was op die ouderdom van 28 met laat-stadium 3 gediagnoseer. Ek het simptome ervaar, maar die dokters het my aanhoudend verkeerd gediagnoseer. Uiteindelik het ek self na ’n spesialis gegaan wie opgemerk het wat fout was.”
Lorraine Govender, KANSA se Nasionale Bestuurder: Gesondheidsbevordering, deel die hoogtepunte van KANSA se kolorektale veldtog: “KANSA, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Kolorektale Vereniging (SACRS), verskaf die feite op ’n prettige, interaktiewe manier. In vennootskap met Medtronic, het KANSA ook ’n kolorektale bewusmakingsvideo met ‘Sizwe en Crystal’ vrygestel, waarin hulle ontdek hoe hulle leefstylkeuses hulle kolorektale gesondheid geaffekteer het, en oor die simptome wat hulle nie mag ignoreer nie. Verder is ‘Colin die Kolon’-tonnel geskep om mense op ’n visuele en tasbare manier oor kolorektale kanker te leer. Lede van die publiek kan deur ’n 2x3m opblaasbare tonnel stap wat die kolorektale kanaal verteenwoordig en so oor kolorektale kanker leer. Colin (wat in Maart 2022 by die SAPHEX-uitstalling ’n verskyning gemaak het, waar KANSA en LocumBase gratis kanker siftingstoetse vir mediese kundiges aangebied het) kan by verskeie KANSA-geleenthede van binne en buite beskou word, en die publiek kan selfs versoek dat dit by korporatiewe welstandsdae uitgestal word.”
Dr Vuyo Soldati, Kolorektale Lid by Groote Schuur Hospitaal, voeg by, “Kolorektale kanker kan deur middel van ’n operasie genees word indien dit vroeg genoeg opgespoor word. Pasiënte met ontlasting wat pap voorkom, met rektale bloeding of bloedarmoede met ’n tekort aan yster, moet deur middel van ’n kolonoskopie ondersoek word.”
KANSA moedig vroeë opsporing aan en toetse deur middel van ’n kolonoskopie, vanaf die ouderdom van 50 jaar en elke 10 jaar daarna, afhangende van die persoon se risikofaktore. ’n Kolonoskopie kan ook versoek word indien abnormale simptome ervaar word, en indien daar ’n familiegeskiedenis van kolorektale kanker is, kan dit selfs op ’n jonger ouderdom aangevra word. KANSA bied fekale okkulte tuistoetse teen R100 aan. Indien die toets positief is (’n duidelike rooi lyn op die toetsstrook) vir die aanwesigheid van bloed in die ontlasting, verskaf KANSA ’n verwysingsbrief om ’n kolonoskopie aan te vra.
Die jongste verslag oor kolorektale kanker deur die Amerikaanse Instituut vir Kankernavorsing (AICR) het gevind dat veselryke kosse, gereelde oefening en om ’n gesonde gewig te handhaaf, jou risiko kan verminder. Die inname van groot hoeveelhede rooi of geprosesseerde vleis, alkohol asook die dra van ekstra liggaamsvet, word aan hoër risiko gekoppel.
’n Kolostomie is ’n moontlike newe-effek van kolorektale kanker. Vir baie kolorektale kankerpasiënte word ’n deel van hulle kolon verwyder met die gevolg dat hulle ’n permanente stoma het. ’n Stoma is ’n opening in die buik wat met die vertering- of urinestelsel verbind kan word vir ekskresie om die liggaam te verlaat. Dit kan ’n rukkie neem vir ’n pasiënt om aan ’n stoma gewoond te raak, so dis belangrik om ondersteuning by KANSA te kry.
Die KANSA Tele-stoma ondersteuningsdiens bied aanlyn konsultasies vir stomapasiënte en hulle families aan om te help met uitdagings of navrae. Dit sluit in professionele voor- en na-chirurgiese berading asook ondersteuningsgroepe by Stoma Klinieke, en stomasakkies en linnedoekies wat teen verlaagde pryse by meeste plaaslike KANSA Sorgsentrums gekoop kan word.
KANSA maak steeds voorspraak by wetgewers vir ’n Nasionale Kolorektale Kankerbeleid om die regte van pasiënte met kolorektale kanker te bevorder, vir die bestuur van bevolkings-gebaseerde siftingstoetse en publieke gesondheidsdienste verbonde aan risikovermindering, behandeling, sorg en die beheer van kolorektale kanker.
Bronne:
https://www.aicr.org/research/the-continuous-update-project/colorectal-cancer/
CANSA Colorectal Cancer Fact Sheet
(Vir meer inligting, kontak asseblief vir Lucy Balona, Hoof: Bemarking en Kommunikasie by KANSA per e-pos by lbalona@cansa.org.za. Skakel 011 616 7662 of op haar selfoon 082 459 5230).
Navrae KANSA
0800 22 6622 Tolvry
072 197 9305 Engels en Afrikaans (slegs teks)
071 867 3530 isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Setswana and Sepe (slegs teks)
KANSA Versorgsentrums
Maak kontak met KANSA op sosiale media platforms: