The responsibility rests with patients to contact CANSA for assistance. Read more...

Wêreldgesondheidsdag beklemtoon Menseregte as sleutelrol in die verlaging van kankerrisiko

English media release

2 April 2024 – “Daar is ’n direkte skakel tussen menseregte en die voorkoming en verspreiding van kanker,” sê Lorraine Govender, Nasionale Bestuurder: Gesondheidsprogramme, by die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA). Sy lewer kommentaar op vanjaar se tema vir Wêreldgesondheidsdag: My Gesondheid, My Reg.

#ColorectalCancerAwareness #ActiveBalancedLifestyle #LowerCancerRisk

KANSA fokus in April op die bewusmaking van kolorektale kanker (ook bekend as kolonkanker), en die hoof boodskappe sluit aan by Wêreldgesondheidsdag wat op 7 April plaasvind.

“Gesondheid is almal se fundamentele reg,” sê Govender. “Daar is drie hoof konsepte in die Universele Verklaring van Menseregte wat ’n belangrike rol speel om die kankerrisiko te verlaag: gesondheid en welstand, kos en opvoeding.”

Menseregte en die voorkoming van kanker

KANSA meen die reg tot toegang na genoeg gesonde kos en water is die eerste stap wat illustreer hoe menseregte die verlaging van die kankerrisiko kan beïnvloed. “Deel van ons rol is om voortdurend bewusmaking te skep oor die ongelykhede en menseregte kwessies wat kankersorg en –risikoverlaging in Suid-Afrika beïnvloed,” sê Govender.

“Baie Suid-Afrikaners kan nie gesonde kos bekostig nie, en bly uit noodsaak aan die lewe deur kos met hoë suikervlakke en lae voedingswaarde te eet. Dit kan tot vetsug lei en ook die kankerrisiko verhoog.”

Govender sê dat opvoedkundige programme krities is. “As mense ingelig is, is die kanse groter dat hulle die regte kos, soos genoeg vrugte en groente, sal inneem, verwerkte vleis sal vermy en minder rooivleis sal eet. Hulle sal ook aan fisiese aktiwiteite deelneem, vetsug vermy, ophou om alkohol– en tabakprodukte te gebruik en aandag skenk aan die waarskuwingstekens van kanker.”

Laai Infografieke af:  EnglishAfrikaansisiNdebeleisiXhosaisiZuluSepediseSothoseTswanasiSwatitshiVendaxiTsonga

Sy voeg by dat Suid-Afrika ook sterker beleid en wetgewing nodig het, byvoorbeeld die wetsontwerp op  beheer van tabakprodukte en elektroniese afleweringstelsels, wat kan help om kankerverwekkende stowwe (karsinogene) en kankerrisiko te verlaag.

Gevalle van kolorektale kanker verhoog

In Suid-Afrika het die toename in negatiewe leefstylkeuses, soos die eet van meer verwerkte vleis, minder vrugte en groente, ’n onaktiewe leefstyl en rook- en drankgebruik, moontlik tot ’n dramatiese toename in die voorkomssyfer van kolorektale kanker gelei, in beide mans en vroue. In 1989 was dit die 10de mees algemene kanker wat in beide geslagte gediagnoseer was. Meer onlangs in 2019 het die Nasionale Kankerregister dit onder die vyf mees algemene kankers uitgewys, tweede onder mans en derde onder vroue.

“Wat dinge vererger,” se dokter Fatima Bhabha, ’n algemene praktisyn en kolonkanker-oorwinnaar, “is dat daar dikwels glad nie simptome in die vroeë stadium van kolorektale kanker is nie. Wanneer simptome wel wys, word dit baiemaal verkeerd gediagnoseer. Dit beteken dat baie mense eers gediagnoseer word wanneer die siekte al ver gevorder het.”

Vroeë opsporing

“Diegene wat vermoed dat hul kolorektale kanker het, moet so gou moontlik met hul gesondheidsorgverskaffer gesels,” sê dokter Bhabha. “Die kanse is groter vir behandeling om suksesvol te wees as die siekte in die vroeë stadium opgespoor word.”

“En al dink mense nie dat hulle kolorektale kanker het nie, moet hulle gereeld vir die siekte getoets word. Studies wys dat siftingstoetse beide die voorkomssyfer en sterftesyfer deur vroeë opsporing kan verminder, asook die verwydering van voorkankerse groeisels.  Wees ook bewus van enige bloed of abnormale veranderinge want dit moet ondersoek word.”

Metodes sluit in ontlasting-gebaseerde toetse wat nie indringend is nie. Die mees algemene toets is die fekale okkulte bloedtoets wat bloed in die ontlasting ontdek; dit kan dalk aandui dat verdere toetse nodig is. Hierdie toetse is by sekere KANSA Sorgsentrums beskikbaar – KANSA sal ’n verwysingsbrief vir jou gesondheidsorgverskaffer gee sodat daar verder ondersoek ingestel kan word.

Verdere risikofaktore

Buiten leefstylkeuses, is daar ook ander faktore wat die risiko vir die ontwikkeling van kolorektale kanker kan verhoog. Die meeste gevalle steek kop uit onder mense in hul vyftigs of ouer, so die kanse om die siekte te ontwikkel verhoog met ouderdom. Familiegeskiedenis speel ook ’n rol. ’n Geskiedenis van kolorektale kanker of sekere genetiese toestande soos Lynch-sindroom en Familiale adenomateuse polipose (FAP) kan die risiko verhoog. Nog ’n risiko is ’n persoonlike geskiedenis van ’n vorige geval van kolorektale kanker of die teenwoordigheid van sekere tipes groeisels of poliepe.

Algemene simptome

Dit sluit in veranderinge in stoelgang soos diarree, hardlywigheid, of vernouïng van die stoelgang; bloed in die stoelgang (rektale bloeding) wat bloedrooi is of donkerrooi en teeragtig; abdominale krampe; pyn of opgeblasenheid wat nie weggaan nie; skielike gewigsverlies sonder ’n gewigsverlies-dieet; aanhoudende moegheid en tekort aan energie, selfs met genoeg rus; en ystertekort-anemie as gevolg van chroniese bloeding wat moegheid, swakheid en bleekheid veroorsaak.

Waar om ondersteuning te kry

KANSA bied ‘n aanlyn leefstyl risiko-assessering wat help om leefstylfaktore te identifiseer wat die kankerrisiko kan verhoog. Dit bied ook voorstelle oor hoe om gedrag te verander om die kankerrisiko te verlaag.

Verskeie kolorektale kankerpasiënte moet ’n gedeelte van hulle derms en/of kolon laat verwyder en moet ’n permanente stoma (’n opening in die buik wat aan die spysvertering- of urinestelsel verbind word sodat gifstowwe uit die liggaam verwyder kan word) hê. KANSA bied ondersteuning aan pasiënte wat moet aanpas om met ’n stoma te lewe, en bied ook ’n reeks stoma-produkte en bykomstighede aan. Die KANSA Tele Stoma-ondersteuningsdiens bied aanlyn konsultasies vir stomapasiënte en hulle families. Skakel die KANSA Hulplyn by 0800 22 66 22 om ’n afspraak te maak.

KANSA het in samewerking met Medtronic ’n bewusmakingsvideo oor kolorektale kanker gemaak waar twee mense ontdek hoe hulle leefstylkeuses hul kolorektale gesondheid geaffekteer het, asook die simptome wat hulle nie moet ignoreer nie. Kyk die video by https://youtu.be/zq8xHbvFR4E

Do you have a question?
Ask CANSA
Book a counselling session

CANSA Tele Counselling

 0800 22 6622 Toll Free
 072 197 9305 English and Afrikaans (text only)
 071 867 3530 isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Setswana and Sepedi (text only)

 

  Find Your Care Centre

About Us | Get in Touch

1931 - 2021. 90 Year Anniversary

Sign up to receive news and updates: