Is jou Kolon Gesond?
KANSA raai mense aan om ’n aktiewe, gebalanseerde leefstyl te lei en sê dat sekere leefstylveranderinge kankerrisiko kan verlaag.* Verder beveel ons aan dat mense sekere leefstylfaktore uitsny wat hulle in gevaar stel vir kanker, veral kolorektale kanker wat een van die top drie kankers** onder mans en vroue in Suid-Afrika is. Slegte leefstylkeuses kan ’n belangrike rol speel wanneer dit by verhoogte risiko vir hierdie tipe kanker kom.
#CANSAColorectalCancer #ColorectalCancerAwareness #ActiveBalancedLifestyle
Lorraine Govender, KANSA se Nasionale Bestuurder: Gesondheidsbevordering, praat oor KANSA se Kolorektale Bewusmakingsveldtog, nou in sy tweede jaar: “Ons beoog om die feite op ’n prettige, interaktiewe manier oor te dra. KANSA het in vennootskap met Medtronic ’n kolorektale bewusmakingsvideo vrygestel met ‘Sizwe en Crystal’ in die hoofrolle. Dié twee ontdek hoe hulle leefstylkeuses hul kolorektale gesondheid geaffekteer het, en watter simptome hulle nie kan ignoreer nie.”
Govender voeg by, “verder was ‘Colin die Kolon Tonnel’ ontwikkel om aan die publiek die geleentheid te gee om op ’n visuele en tasbare manier oor kolorektale kanker te leer. Die publiek kan deur ’n opblaastonnel van 2x3m lank loop wat die kolorektale kanaal verteenwoordig en so oor kolorektale kanker leer. Colin kan van binne en buite by verskeie KANSA-geleenthede aanskou word en kan selfs by welweesgeleenthede vir werknemers ten toon gestel word. Stuur ’n e-pos aan info@cansa.org.za.”
Kolorektale- of kolonkanker is onder die top drie kankers vir beide mans en vroue in Suid-Afrika met kanse van 1 in 77 mans en 1 in 132 vroue wat gediagnoseer kan word, volgens die Nasionale Kankerregister (2019)**. Daar is ook bewyse van al hoe meer jonger persone wat met kolorektale kanker gediagnoseer word. Dit is die tweede mees algemene kanker onder mans (na prostaatkanker) en die derde mees algemene kanker onder vroue (na bors- en servikskanker). Ongelukkig is die simptome nie altyd in die vroeë stadium van hierdie tipe kanker sigbaar nie. Wanneer simptome wel voorkom, word dit dikwels van die hand gewys as onverwant of verkeerd gediagnoseer. Baie mense word eers gediagnoseer wanneer die siekte al ver gevorder het.
“Sizwe, Crystal en Colin help om bewusmaking te skep van die risikofaktore wat uitgesny moet word om die risiko van kolorektale kanker te verlaag, asook die simptome van die siekte, wat heel moontlik baie lewens deur vroeë opsporing red, wanneer die kanker nog behandel kan word. KANSA beveel gereelde siftingstoetse aan, asook bewuswording van jou liggaam en familiegeskiedenis, en om ’n aktiewe en gebalanseerde leefstyl te lei,” sê Govender.
Faktore wat die risiko van kolorektale kanker verhoog sluit in leefstylfaktore soos ’n gebrek aan gereelde oefening; te min vrugte of groente, lae-vesel en hoë-vet dieet; vetsugtigheid, alkoholmisbruik; die gebruik van tabak en slegte mondhigiëne. Oorerflike sindrome, ’n persoonlike geval of familiegeskiedenis van poliepe (groeisels) of kolorektale kanker; inflammatoriese dermkanaalsiekte; tipe 2-diabetes en bejaardheid is ander risikofaktore.***
KANSA het ’n aanlyn Leefstyl Risikobepalingsinstrument, wat help om leefstylfaktore te identifiseer wat kankerrisiko kan verhoog. Dit maak dan aanbevelings oor hoe om gedrag te verander om kankerrisiko te verlaag. Dit kan ook by KANSA Sorgsentrums gedoen word.
Siftingstoetse
Dit is belangrik om van familiegeskiedenis rakende kolorektale kanker bewus te wees en om van siftingstoetse gebruik te maak voordat simptome en ongemak ervaar word, aangesien daar geen simptome met die aanvang van hierdie tipe kanker is nie. Vroeë opsporing is uiters belangrik. ’n Kolonoskopie wat by pasiënte met simptome of diegene ouer as 50 jaar deur ’n gastroënteroloog gedoen word, kan voorkankerse poliepe in die kolon opspoor. Indien hierdie poliepe verwyder word, kan dit die kanse vir die ontwikkeling van kolorektale kanker drasties verlaag. As abnormale simptome ervaar word, of indien daar ’n familiegeskiedenis van kolorektale kanker is, kan ’n kolonoskopie op ’n jonger ouderdom aangevra word.
Deur die teenwoordigheid van bloed in die stoelgang te identifiseer, kan kolorektale kanker vroeg opgespoor word. ’n Fekale okkulte toets (R100) wat tuis gedoen kan word, is by sekere KANSA Sorgsentrums beskikbaar – stuur ’n e-pos aan info@casna.org.za vir meer besonderhede. As die toets positief is (sigbare rooi lyn op die toetsstreep) vir bloed in die stoelgang, sal KANSA ’n verwysingsbrief verskaf om ’n kolonoskopie aan te vra.
Stomadiens
Baie pasiënte van kolorektale kanker laat ’n gedeelte van hulle ingewande en/of kolon verwyder en het dan ’n permanente stoma. ’n Stoma is ’n opening op die buik wat met die spysverteringstelsel of urinestelsel verbind word om afval uit die liggaam te verwyder. Dit kan ’n rukkie neem vir ’n pasiënt om aan die stoma gewoond te raak, so dis belangrik om ondersteuning by KANSA te kry.
KANSA se stomadiens het ’n uitstekende reeks van stomaprodukte en bykomstighede, en bied ondersteuning aan pasiënte. Die KANSA Tele-Stoma Ondersteuningsdiens bied aanlyn konsultasies vir stomapasiënte en hulle families om te help met uitdagings of stoma-navrae. Maak ’n afspraak by 0800 22 66 22.
Verwysings
* https://www.wcrf-uk.org/uk/health-advice-and-support/resources-cancer-prevention/10-ways-protect-yourself-against-cancer
** National Cancer Registry 2019
*** CANSA Colorectal Cancer Fact Sheet
Skyfievertoning: PDF
(Vir meer inligting kontak asseblief vir Lucy Balona, Hoof: Bemarking en Kommunikasie by KANSA. E-pos lbalona@cansa.org.za. Skakel 011 616 7662 of op haar selfoon 082 459 5230.)
Navrae KANSA
0800 22 6622 Tolvry
072 197 9305 Engels en Afrikaans (slegs teks)
071 867 3530 isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Setswana and Sepe (slegs teks)
KANSA Versorgsentrums
Maak kontak met KANSA op sosiale media platforms: