KANSA Vier 90 jaar – Saam Gee Ons
29 November 2021 – KANSA, in 1931 gestig, het ’n merkwaardige mylpaal behaal: dit vier vanjaar sy 90ste bestaansjaar. KANSA bly relevant, hoogs aanpasbaar en veerkragtig, deur sy fokus en dienste te verfyn om beter aan die behoeftes van diegene wat deur kanker geaffekteer word te voldoen, en die publiek te leer hoe om kankerrisiko te verlaag.
#TogetherWeGive #GivingTuesday #CANSA90
KANSA het dié aanpasbaarheid gedemonstreer toe dit op die COVID-19 beperkings reageer het, deur aanlyn ondersteuning en hulpbronne op te skerp vir pasiënte en geliefdes wat gesukkel het met isolasie as gevolg van die inperking, asook die vrees om die virus as gevolg van lae immuniteit op te doen. Die hulpbronne het inligting ingesluit vir kankerpasiënte oor hoe om hulself teen COVID-19 te beskerm.
KANSA nooi die publiek uit om op ‘Giving Tuesday’ (30 November 2021) van 12:00 tot 13:15 aan ’n virtuele viering ‘Gesprekke met KANSA – Ons vier 90 jaar’, op die KANSA Facebook-blad of op YouTube deel te neem. Dis ’n geleentheid vir die publiek om ’n aanlyn donasie te maak om KANSA te ondersteun met dit wat hulle vir diegene doen wat deur kanker geaffekteer is.
Elize Joubert, KANSA se Hoof Uitvoerende Beampte (HUB), is bly dat sy deur die Organisasie ’n positiewe impak in ’n kankerpasiënt of geliefde se lewe kan maak. “Ek is baie trots op KANSA se prestasies en dat ek ook ’n rol kon speel. KANSA se diens sluit in die ondersteuning van plaaslike kankernavorsing en die bevordering van opvoedkundige veldtogte in die gemeenskap om persoonlike kankerrisiko te verlaag. Ons bied ook kanker siftingstoetse en welstandsprogramme vir werknemers aan om vroeë opsporing te bevorder. Boonop is daar ’n sorgdiens wat pasiënte en geliefdes op ’n praktiese manier met die fisiese en sielkundige uitdagings van kankerbehandeling help. Ons KANSA Sorgtuistes bied verblyf, vervoer en etes vir pasiënte wat kankerbehandeling ontvang aan. Oor die afgelope 10 jaar het ons meer as 33 000 kankerpasiënte by ons Sorgtuistes versorg.”
Modernisering van Dienste
Joubert voeg by, “Ten spyte van die impak van COVID-19 en die druk op hulpbronne, maak ons aktief gebruik van tegnologie om daaglikse prosesse te ondersteun. Dit het die dubbeldoel om koste te verlaag en terselfdertyd beter maniere van dienslewering te vind.
KANSA het in 2020 sy Teleberadingsdiens bekend gestel; gratis kankerspesifieke teleberading in sewe tale. Behalwe diegene wat teleberading ontvang het, het KANSA byna 200 000 mense oor die laaste 10 jaar raad gegee. Ondersteuningsgroepe vir pasiënte gaan ook aanlyn voort. KANSA help ongeveer 900 – 1000 mense per maand deur sy hulptoonbank.
Advokaatskap en Opvoeding
KANSA is ook ’n kampvegter vir kankerpasiënte se regte binne die werksplek, toegang tot behandeling en medikasie, pynbeheer en palliatiewe sorg. KANSA het tot die Nasionale Kanker Strategiese Raamwerk 2017 – 2022 bygedra, asook die opdatering van die nasionale voorkomings- en beheerbeleid vir bors- , serviks- en prostaatkanker (ongepubliseer) (sien hierdie skakel vir meer voorspraak-prestasies – KANSA se 90ste infografiek). KANSA het meer as 300 Feiteblaaie opgestel met die doel om mense oor kanker en verwante inligting te leer.
Raadspresident Bugs Pancha sê, “Ek doen diens by KANSA as gevolg van die genot wat ek ervaar deur met die mees toegewyde span te werk. Binne die volgende 10 jaar wil ek graag sien hoe KANSA se navorsings- , opvoedings- en ondersteuningsprogramme uitgebrei word en alle mense van regoor ons land bereik.”
Voorsitter Vuyokazi Memani-Sedile voeg by, “Om die woorde van Madiba te gebruik, ‘opvoeding is die magtigste wapen wat ons kan gebruik om die wêreld te verander’. Hoe meer mense ons leer, hoe meer kan daarvan te hore kom sodat hulle vir kanker getoets kan word of vroeër behandeling kan kry.”
Die KANSA-gemeenskap
KANSA maak staat op individue, korporatiewe skenkers, donasies en vrywilligers om sy diens-, sorg- en ondersteuningsprogramme, asook voorspraak- en navorsingsinisiatiewe te befonds.
Memani-Sedile glo dat een van KANSA se merkwaardigste prestasies in sy 90 jaar is om ’n gemeenskap van mense bymekaar te bring wat op een of ander manier deur kanker geaffekteer word, wat saam werk om fondse in te samel en die werk gedoen te kry.
“Dit sluit in Kankeroorwinnaars, versorgers, mediese- en navorsingskundiges, borge en die algemene publiek wat ons keer op keer verras met hulle vrygewigheid en deelname in ons nasionale- en streeksgeleenthede, hetsy dit in-persoon of virtueel is,” sê Memani-Sedile.
Erkenning
Oor die afgelope paar jare, het KANSA nasionale erkenning ontvang vir sy betekenisvolle bydrae tot Suid-Afrika se stryd teen kanker. Jongmense het ook vir KANSA gestem as die ‘Most Coolest’ handelsmerk in die 2016 Sunday Times Generation Next-meningsopname.
In November 2015 was KANSA se Hoof Uitvoerende Beampte aangewys as die Afrika Kontinentale Wenner vir Welsyn en Burgerlike Samelewing Organisasies by die 2015 se Afrika se Mees Invloedryke Vroue (MIV) in Besigheid en Regering” toekenningsgeleentheid. Reeds in Julie het sy twee toekennings gewen: ‘Landwenner van Suid-Afrika’ en ‘SADC Suidelike Streekswenner’ in die kategorie ‘Welsyn en Burgerlike Samelewing Organisasies.’
In April 2018 het KANSA ’n vennootskap met die Universiteit van KwaZulu-Natal en die KwaZulu-Natal Departement van Gesondheid aangegaan om bewusmaking van servikale kanker te skep en die aantal siftingstoetse te verhoog. Hulle het sodoende ’n Guinness Wêreldrekord behaal vir die meeste Papsmere op een dag. In Junie 2016 het ‘n testikulêre kanker video, pro bono vervaardig deur vennootagentskap HelloFCB+, ‘n internasionale Silwer Cannes Lions toekenning, asook drie plaaslike Loerie toekennings verwerf. Hulle het verder ‘n prostaatkanker video vervaardig (ook pro bono) wat twee Loerie toekennings in 2020 verwerf het.
Joubert sluit af, “Ek is dankbaar vir ’n hoogs gemotiveerde en suksesvolle Raad, personeel en vrywilligers wat werklik omgee vir diegene met wie hulle werk asook die gemeenskappe waar hulle dien. Ons sal nie sonder ons toegewyde vrywilligers, die ruggraat van die Organisasie, kan klaarkom nie, en ook nie sonder die ondersteuning van die publiek nie. Saam maak ons voortdurend ’n impak wat op ons waardes van leierskap, verbetering, passie, verantwoordelikheid en integriteit gegrond is. Ons moedig jou aan om ons KANSA Webwerf te besoek vir meer inligting oor hoe jy by ons organisasie betrokke kan raak of ’n aanlyn donasie te maak.
Vir meer inligting, kontak asseblief vir Lucy Balona, Hoof: Bemarking en Kommunikasie by KANSA per e-pos lbalona@cansa.org.za. Skakel 011 616 7662 of op haar selfoon 082 459 5230.
Navrae KANSA
0800 22 6622 Tolvry
072 197 9305 Engels en Afrikaans (slegs teks)
071 867 3530 isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Setswana and Sepe (slegs teks)
KANSA Versorgsentrums
Maak kontak met KANSA op sosiale media platforms: