Borskanker Siftingstoetse kan Lewens Red
Met toenemende gevalle is bors- en servikskanker as ’n nasionale prioriteit geïdentifiseer en KANSA moedig vroue aan om vir jaarlikse gesondheidsondersoeke en siftingstoetse te gaan om kanker vroeg op te spoor. Buiten nie-melanoom velkanker, is borskanker die mees algemene kanker wat vroue in Suid-Afrika affekteer met ’n leeftydsrisiko van 1 in 27, volgens die 2019 Nasionale Kankerregister (NKR). Daar is groeiende bekommernis dat meeste vroue met laat-stadium kankers gediagnoseer word, wat tot ’n moeilike prognose lei.
#CANSAWomensHealth #BreastCancerAwareness #WomensHealth
Lorraine Govender, KANSA se Nasionale Bestuurder Gesondheidsbevordering, sê, “KANSA speel ’n aktiewe rol om vroue van borskanker-simptome te leer, asook hoe om maandeliks self-ondersoeke van hul borste te doen. Navorsing wys dat ’n gereelde Bors Self-Ondersoek ’n belangrike rol speel om borskanker te ontdek, in vergelyking met ’n borsklont wat toevallig ontdek kan word. Alhoewel nie alle klonte kanker aandui nie, moet dit ondersoek word. Dis uiters belangrik om jouself op te voed en die waarskuwingstekens en simptome te verstaan.”
“KANSA bied Kliniese Bors-ondersoeke by KANSA Sorgsentrums aan om enige onreëlmatighede op te spoor en pasiënte met mediese fonds-voordele kan ’n eis insit nadat hulle vir die siftingstoets betaal het. Vroue is op ’n jaarlikse kliniese bors-ondersoek geregtig wanneer hulle primêre gesondheidsorgsentrums besoek (volgens die Nasionale Departement van Gesondheid se beleid vir die Beheer van Borskanker),” voeg Govender by.
’n Mammogram (’n spesiale X-straal wat klonte in die bors opspoor), voorkom nie borskanker nie. Dit kan egter lewens red deur borskanker so vroeg as moontlik op te spoor. Vroue vanaf die ouderdom van 40 jaar moet vir ’n jaarlikse mammogram gaan, vir die doel van nie-simptomatiese bors siftingstoetse. Vroue van 55 jaar en ouer, moet elke twee jaar vir ’n mammogram gaan – of sou hulle dit verkies, kan hulle met die jaarlikse mammogram voortgaan.
Sommige mense het genemutasies wat dit meer waarskynlik vir hulle maak om borskanker te ontwikkel. Die mees algemene genemutasies word in die BRCA1 en BRCA2-gene gevind, wat normaalweg proteïne produseer wat mens teen kanker beskerm. BRCA1 (BReast CAncer gene 1) en BRCA2 (BReast CAncer gene 2) is gene wat proteïne produseer wat help om beskadigde DNS te herstel. Vroue met een van hierdie genemutasies staan ’n groter kans om borskanker te ontwikkel en moet dus vir ’n jaarlikse mammogram verwys word. Sien KANSA Borskanker Posisiestaat .
Vroue kan by publieke hospitale se borsklinieke getoets word indien hulle ’n verwysingsbrief van ’n mediese beroepspersoon of KANSA-verpleegster het. Alternatiewelik kan hulle die Radiologiese Vereniging van Suid-Afrika op 011-794 4395 kontak, ’n e-pos stuur aan radsoc@iafrica.com of www.rssa.co.za besoek om vir ’n mammogram te reël.
Lwazi Mathivha, oorspronklik van die Oos-Kaap en nou in Gauteng, was met drievoudige negatiewe borskanker gediagnoseer. “KANSA het ingegryp en my met toegang gehelp. Hulle het ook tydige diagnose en behandeling aanbeveel wat my feitelik en op emosionele vlak gehelp het. Hulle het broodnodige ondersteuning aangebied en is die brug tussen die gesondheidstelsel en pasiënte en hulle families.”
KANSA se voorspraakspan maak besluitnemers bewus van die uitdagings wat kankerpasiënte in die gesig staar om kankersiftingstoetse en -behandeling te kry. Hulle veg ook vir nodige veranderinge om die publiek se kankerrisiko te verlaag en die regte van kankerpasiënte en versorgers te beskerm.
Govender deel meer oor die hulpbronne wat beskikbaar is wanneer kanker na ander liggaamsdele versprei het – Metastatiese Borskanker (MBK). Om met MBK saam te leef is ’n langtermyn diagnose met vele newe-effekte en daaglikse uitdagings.
Sy verduidelik, “Die beperkings van hierdie toestand beteken dis nie altyd moontlik vir oorwinnaars om in-persoon ondersteuningsgroepe by te woon nie, so dis belangrik dat hulle betekenisvolle en nuttige ondersteuning aanlyn kry. Met behulp van kenners en MBK-oorwinnaars, was ons bestaande iSurvivor e-posondersteuningsprogram aangepas met die fokus op MBK-pasiënte se behoeftes. Pasiënte wat aansluit kry weeklikse e-posse oor ’n tydperk van 16 weke om hulle te help lei en ondersteun.”
Pasiënte kan ook by KANSA se MBK-WhatsApp ondersteuningsgroep aansluit wat deur ’n maatskaplike werker wat ook ’n borskankeroorwinnaar is, behartig word. Om aan te sluit, e-pos asseblief info@cansa.org.za Boonop bied KANSA ’n hele aantal alternatiewe ondersteuningsgroep-opsies aan, asook aanlyn ondersteuningshulpmiddels en gratis Teleberading in sewe tale vir pasiënte, versorgers en geliefdes. Maak ’n afspraak op 0800 22 66 22 of e-pos counselling@cansa.org.za
“Bly ingelig deur op ons KANSA e-nuusbrief met gesondheidsveldtogte in te skryf en deel hierdie belangrike inligting met die vroue in jou lewe om kankerrisiko te help verlaag en vroeë opsporing van kanker moontlik te maak,” sluit Govender af.
Diegene wie wil help om fondse in te samel om ons Vrouegesondheid opvoedkundige veldtog te ondersteun en siftingstoetse bekostigbaar te hou, kan die geleenthede in Oktober ondersteun. Koop ’n ‘Doek with a Difference’ of oorbelle of draai ’n boom toe as deel van die Pink Trees for Pauline-veldtog – by plaaslike KANSA Sorgsentrums beskikbaar. Hou of woon ’n Cuppa For CANSA -geleentheid by, of ’n KANSA SPAR-tee – kontak vir Angelique de Witt by adewitt@cansa.orgza of skenk via KANSA se veilige, aanlyn platforms.
Vir meer inligting, kontak asseblief vir Lucy Balona, Hoof: Bemarking en Kommunikasie per e-pos lbalona@cansa.org.za of skakel 082 459 5230).
Navrae KANSA
0800 22 6622 Tolvry
072 197 9305 Engels en Afrikaans (slegs teks)
071 867 3530 isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Setswana and Sepe (slegs teks)
KANSA Versorgsentrums
Maak kontak met KANSA op sosiale media platforms: