Verbreek die Stilte oor die Lewe na Prostaatkanker
30 Oktober 2025 – die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) moedig mans en hul lewensmaats aan om openlik oor seksuele gesondheid ná prostaatkankerbehandeling te praat. Terwyl die oorlewingsyfers van prostaatkanker aanhou styg, kan oorlewendes veranderinge in seksuele funksie en -intimiteit ervaar wat dikwels nie oor gepraat word nie.
Volgens die Nasionale Kankerregister, 2023, is prostaatkanker die mees algemene kanker wat Suid-Afrikaanse mans affekteer. Dit het ‘n lewenslange risiko van 1 uit 16 en is verantwoordelik vir meer as 25% van alle kankers onder mans wat aangemeld word. Tog, ten spyte van die sukses van moderne behandeling, staar baie oorwinnaars uitdagings in die gesig soos erektiele disfunksie, verlies aan libido en veranderinge in orgasme of ejakulasie.

“Hierdie veranderinge kan ‘n diepgaande uitwerking op selfvertroue, verhoudings en algehele lewensgehalte hê,” sê Lorraine Govender, KANSA se Nasionale Bestuurder: Gesondheidsprogramme. “Dit is noodsaaklik dat mans verstaan dat hierdie newe-effekte algemeen, hanteerbaar is en niks is om oor skaam te wees nie. Om daaroor te praat is die eerste stap na herstel.”
Histories was mans minder geneig om hulp te soek vir emosionele of seksuele uitdagings na behandeling. Kulturele en sosiale druk ontmoedig dikwels openlike besprekings, wat baie geïsoleer of verleë laat voel. KANSA moedig mans aan om die stilte te verbreek en die gesprek te normaliseer, nie net onder oorlewendes nie, maar ook binne verhoudings, gemeenskappe en met mediese praktisyns.
“Die stigma rondom seksuele gesondheid is een van die grootste struikelblokke vir herstel,” voeg Govender by. “Wanneer mans hoor dat ander hul ervarings deel, vind hulle ‘n ondersteunende ruimte vir genesing. Ons doel is om seker te maak dat prostaatkanker-oorwinnaars weet dat hierdie newe-effekte nie ‘n teken van swakheid is nie, maar ‘n normale deel van behandeling en herstel.”
Algemene newe-effekte van behandeling kan die volgende insluit:
- Sukkel om ‘n ereksie te bereik of te handhaaf
- Verminderde seksuele begeerte as gevolg van hormoonveranderinge
- Veranderinge in orgasme of ejakulasie
- Urinelekkasie tydens orgasme (bekend as klimaksturie)
- Emosionele of verhoudingstremming wat veroorsaak word deur angs, moegheid of liggaamsbeeld
- Ondersteuning en rehabilitasie kan ‘n werklike verskil maak. Voor- en na-behandeling berading en portuurondersteuningsgroepe kan oorlewendes help om selfvertroue te herwin en intimiteit te verbeter.
Waarom hierdie newe-effekte voorkom:
- Senuwee- en weefselskade: chirurgie of bestraling kan senuwees of bloedvloei beïnvloed wat noodsaaklik is vir ereksies.
- Hormoonveranderinge: ADT verlaag testosteroon wat libido en energie beïnvloed.
- Sielkundige faktore: angs, vrees vir herhaling en liggaamsbeeld kan seksuele begeerte beïnvloed.
- Algemene gesondheid en moegheid: kankerbehandeling, komorbiditeite en lewenstyl kan seksuele funksie verlaag.
KANSA moedig mans aan om vroegtydig, voordat behandeling begin, met hul dokters te praat om te verstaan wat om te verwag en om opsies vir seksuele rehabilitasie en vrugbaarheidsbewaring te bespreek.

“Seksuele welstand is ‘n belangrike deel van die lewe ná kanker”, sê Govender. “Herstel gaan nie net daaroor om kanker te oorleef nie, maar om weer ten volle te leef, fisies, emosioneel en intiem. Ons wil hê mans en hul lewensmaats moet weet dat hulp beskikbaar is en dat hierdie veranderinge nie definieer wie hulle is nie.”
KANSA verskaf ‘n beradingsdiens wat toegewy is aan die verskaffing van advies aan kankeroorwinnaars. Maak ‘n afspraak op die aanlyn besprekingsvorm vir Tele- en Virtuele Berading of e-pos info@cansa.org.za. Mans kan ook by die Champions of Hope Facebook-groep vir kankeroorwinnaars aansluit en gesels met eweknieë wat soortgelyke uitdagings in die gesig staar.
“Ons erken ook die belangrikheid van ondersteuningsgroepe vir kankeroorwinnaars, versorgers en geliefdes, en bied hulle die geleentheid om by ‘n omgeegemeenskap aan te sluit wanneer hulle by ‘n KANSA Ondersteuningsgroep aansluit,” sluit Govender af.
Lewensmaats speel ‘n belangrike rol in die reis na herstel. Oop kommunikasie, geduld en gedeelde leer kan emosionele spanning verlig en bespoedig herstel. KANSA moedig paartjies aan om saam inligting te soek en by ondersteuningsgroepe aan te sluit waar albei by gedeelde ervarings kan baat.

Deur hierdie bewusmakingsveldtog hoop KANSA om gesprekke oor seksuele gesondheid na prostaatkanker te normaliseer en mans aan te moedig om vroegtydig leiding te soek. Die boodskap is duidelik: jy is nie alleen nie, en ondersteuning is binne bereik.
Vir inligting en ondersteuning, besoek www.cansa.org.za of skakel KANSA se Hulptoonbank by 0800 22 66 22.
Bronne
- National Cancer Registry (NCR). (2023). Cancer in South Africa 2023. National Institute for Communicable Diseases (NICD), National Health Laboratory Service (NHLS).
- Ramathuba, D. U., & Mahlaba, J. N. (2021). The lived experiences of men receiving radiotherapy for prostate cancer in Johannesburg, South Africa. Health SA Gesondheid, 26, a1057.
- Radebe, M., & Mokoena, R. (2020). Impact of androgen deprivation therapy on sexual life among married men with prostate cancer in Pretoria, South Africa. African Journal of Primary Health Care & Family Medicine, 12(1), a2328.
- Prostate Cancer Foundation of South Africa. (2024). Information on the diagnosis and treatment of prostate cancer. https://prostate-ca.co.za/information-on-the-diagnosis-treatment-of-prostate-cancer/
- Burnett, A. L., & Nehra, A. (2022). Sexual rehabilitation after prostate cancer treatment: Evidence-based strategies. The Journal of Urology, 207(5), 1041–1049.
- Norton, W., & Jayadevappa, R. (2023). Erectile dysfunction and quality of life after prostate cancer treatment: A systematic review. BMC Urology, 23, 15.
- Cancer Association of South Africa (CANSA). (2024). Prostate cancer awareness fact sheet. https://cansa.org.za
- National Cancer Institute (U.S.). (2023). Prostate cancer treatment side effects (PDQ®) – Health professional version. https://www.cancer.gov/types/prostate/hp/prostate-treatment-pdq
(Vir meer inligting, kontak asseblief Lucy Balona, Hoof: Bemarking en Kommunikasie by KANSA by e-pos lbalona@cansa.org.za. Bel 011 616 7662 of selfoon 082 459 5230).
Navrae KANSA
0800 22 6622 Tolvry
072 197 9305 Engels en Afrikaans (slegs teks)
071 867 3530 isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Setswana and Sepe (slegs teks)
KANSA Versorgsentrums
Maak kontak met KANSA op sosiale media platforms:



