The responsibility rests with patients to contact CANSA for assistance. Read more...

KANSA Help Prostaat Kanker Oorwinnaars

English Media Release

11 November 2024 – Met November as die Bewusmakingsmaand vir Mansgesondheid, neem die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) hulle Prostaatkanker Pasiënt-navigasieprojek, wat vroeër vanjaar in KwaZulu-Natal (KZN) bekendgestel is, in oënskou. 

“Die groot uitdaging wat ons in Suid-Afrika ervaar wanneer dit by die bestuur van prostaatkanker kom, is laat diagnose wat tot onnodige sterftes kan lei,” sê Lisa Strydom, KANSA se Nasionale Bestuurder: Sorg en Ondersteuning. #MensHealth #ProstateCancer

Om prostaatkanker-pasiënte te help met die siftingstoetse, behandeling en hul ervaring ná behandeling is die doelwit van hierdie jaarlange projek met KANSA aan die bestuur, in samewerking met die KZN Gesondheidsdepartement. Die projek word deur Hollard Insurance en die Amerikaanse Kankervereniging onder hulle *BEACON-inisiatief befonds.  

Prostaatkanker is die mees algemene kanker onder mans in Suid-Afrika met mans wat ’n 1 in 15 kans staan om tydens hulle leeftyd gediagnoseer te word, volgens die Nasionale Kankerregister van 2022. “Alhoewel die diagnosesyfer toeneem, het ons steeds die uitdaging dat sommige mans om een of ander rede uitstel om gediagnoseer te word,”  sê Strydom. “Sommige van hierdie mans, van wie baie suksesvol behandel kon word, sterf op die ou end aan die siekte. Ons doelwit is om mans meer bewus te maak van simptome wat dringend opgevolg moet word, en om geleenthede te skep vir mans om meer gereeld getoets te word. Terselfdertyd wil ons seker maak dat diegene wat opvolgbesoeke benodig, nie in die stelsel verlore gaan nie, en dat hulle die nodige behandeling binne ’n redelike tydperk ontvang.”   

KANSA se projek wil die resultate van ’n navorsingstudie** wat deur spesialis-uroloog Dr Kiran  Singh behartig word, oor die wagperiode van prostaatkanker-diagnose in KZN, verbeter. Singh, wat by die Durban Mediese Sentrum en by Ahmed Al Kadi Privaathospitaal konsulteer, het bevind dat ten spyte van die laat diagnosering van prostaatkanker in KZN, wag pasiënte ongeveer drie maande vanaf die aanvanklike verwysing vir ’n prostaat-biopsie tot die begin van beslissende behandeling.  

“Met ander woorde,” sê Strydom, “hulle wag heeltemal te lank. Hoe vroeër kanker opgespoor en behandel word, hoe beter is die kanse dat behandeling suksesvol sal wees.”  

Die studie het ook bevind dat daar oor die algemeen ’n tekort aan bewustheid aangaande persoonlike gesondheid onder pasiënte is, met sommige wat eers mediese hulp kom soek nadat boererate of tradisionele medisyne nie gewerk het nie. Dit is ook bevind dat daar onder gesondheidsorgpraktisyns in die openbare sektor, onvoldoende kennis aangaande prostaat siftingstoetse is, soos digitale rektale-ondersoeke en die monitor van Prostaatspesifieke Antigeen (PSA)-vlakke, en ook wanneer om pasiënte te verwys. Gesondheidsorgwerkers was ook van mening dat prostaatkanker stadig vorder en dat dit nie nodig is om mans dadelik na diagnose te verwys nie.  

“Ons kan hierdie resultate na vele areas in Suid-Afrika ekstrapoleer,” sê Strydom, “maar ons moes ons aanvanklike pogings daarop fokus om oplossings te vind vir hierdie uitdagings. Ons het areas in KZN gekies waar dokter Singh se navorsing ernstige tekortkominge aan die lig gebring het in terme van bewustheid en behandeling van prostaatkanker.”  

Gelewerde dienste sluit in bewusmaking en opvoeding; prostaatkanker siftingstoetse; verblyf, etes en vervoer tydens behandeling; psigososiale ondersteuning; hulp met aansoeke vir tydelike subsidies; en verwysings na projek-belanghebbers soos palliatiewe sorg-fasiliteite en -dienste.  

Gedurende die eerste helfte van hierdie jaar het KANSA, in samewerking met ander projek- belanghebbendes, 10 persone as kanker ‘pasiënt-navigators’ opgelei – dit sluit in die tekens van prostaat- en testikulêre kanker; simptome, siftingstoetse en behandelingsprosesse; en hoe om ’n KANSA Inligtings- en Ondersteuningsarea in ’n openbare hospitaal te behartig.  

Die navigators by vier klinieke en een hospitaal, sien om na mans wat met prostaatkanker gediagnoseer was. Hulle begelei pasiënte regdeur hulle behandeling en bied opvoeding, praktiese bystand, en verwysings na ander hulpbronne indien nodig. Hulle sorg ook dat pasiënte hulle opvolg-afsprake nakom en help hulle om praktiese uitdagings te oorkom. Buiten die KANSA Inligtings- en Ondersteuningsarea, help navigators ook ander kankerpasiënte met toegang tot kankerverwante inligting en hulpbronne.   

Mzonjani Nyadi,’n prostaatkanker oorwinnaar wat behandeling by die Inkosi Albert Luthuli Sentrale-hospitaal ontvang het, sê, “KANSA het my tydens my kanker-reistog ondersteun, wat my in staat gestel het om voort te gaan met behandeling. Mag KANSA voortgaan om ander te help nes hulle my gehelp het.”  

Zakhele Ngcobo, ’n hospital-pasiënt-navigator, sê, “Hierdie projek het my in staat gestel om ’n waardevolle bydrae te maak tot die lewens van kankerpasiënte, veral dié van mans. Dis ietwat moeilik vir mans om vir hulp te vra en om openlik te praat oor die dinge en vrese wanneer dit by gesondheidskwessies oor ‘ons manlike dele’ kom. Ek is daar al wil ’n pasiënt net gesels. Ek kon selfs binne my eie gemeenskap gesprekke begin en gemeenskapslede oor prostaatkanker inlig.”  

“Hierdie projek gaan oor ’n onderwerp wat al vir jare lank geïgnoreer was, in terme van bewusmaking aan swart mans, veral in landelike gebiede. Sommige is steeds huiwerig om vir siftingstoetse te gaan en om meer uit te vind. Die projek gee aan mans die geleentheid vir opvoeding en om getoets te word vir prostaatkanker en siektes waarvan hulle nie eers bewus was nie. Sommige was bang om vir hulp te vra as gevolg van die stigma wat die siekte dra,” voeg David Khuzwayo, pasiëntnavigator, by.  

KANSA bied ook kanker-opleidingsprogramme en deel inligting met spanleiers van gemeenskapsuitreikprogramme vir gesondheidswerkers in verskeie provinsies, asook die die Gesondheidsdepartement se gemeenskap-gesondheidswerkers. Teen einde Oktober vanjaar, was 329 mans oor prostaatkanker ingelig. Drie prostaatsiftingstoetse het by gemeenskapsgeleenthede plaasgevind, met 113 mans wat getoets was, en nog twee geleenthede vir siftingstoetse wat vir November geskeduleer is.  

‘n Pasiënt Bhekuphila Mzobe sê, “As die projek nie in Maphumulo geïmplementeer was nie, sou ek nie van prostaatkanker geweet het nie.”  

KANSA het ’n wye reeks van dienste en ondersteuningsmeganismes om mense wat deur kanker geaffekteer word, insluitend prostaatkanker, te help. Dit sluit in siftingstoetse, diagnose, behandeling en die ervaring ná behandeling.  

*Die Amerikaanse Kankervereniging se BEACON-inisiatief is ’n wêreldwye program wat gesondheidsinstitusies en kankerorganisasies in lae- en middelinkomste lande, asook ander gebiede met skaars hulpbronne, ondersteun. Dit fokus daarop om gesondheids-ongelykhede in kankersorg aan te spreek, deur kankerpasiënt-navigasieprogramme te ontwerp, te implementeer en te handhaaf.

**Waiting Times for Prostate Cancer Diagnosis in KwaZulu-Natal South Africa (Research Gate)

(Vir meer inligting, kontak asseblief vir Lucy Balona, Hoof: Bemarking en Kommunikasie by KANSA per e-pos lbalona@cansa.org.za. Skakel 011 616 7662 of op haar selfoon 082 459 5230.)

KANSA bied ‘n unieke geïntegreerde diens aan die publiek en mense geaffekteer deur kanker. As ‘n leidende rolspeler in kankernavorsing word die wetenskaplike bevindinge en kennis wat deur ons navorsing opgedoen word, gebruik vir ons gesondheidprogramme en om ons rol as waghond tot groter voordeel van die publiek te versterk. Ons gesondheidprogramme bestaan uit bewusmaking van gesondheid, siftingstoetse vir kanker en veldtogte oor gesondheidopvoeding, KANSA Sorgsentra wat ‘n wye verskeidenheid van sorg- en ondersteuningsdienste bied aan mense wat deur kanker geraak word, stoma en ander kliniese ondersteuning en organisatoriese bestuur, verhuring van mediese toerusting sowel as a tolvrye nommer wat geskakel kan word om inligting en ondersteuning te bekom. Ons bied ‘n gratis Tele Beradingsdiens in sewe tale aan. Ons verskaf ook pasiëntesorg en ondersteuning in die vorm van 8 KANSA Sorgtuistes in die hoof metropolitaanse areas vir weg-van-die-huis kankerpasiënte, sowel as KANSA-TLC verblyf aan en ondersteuning van ouers en voogde van kinders wat behandeling vir kanker ontvang.

Navrae KANSA

 0800 22 6622 Tolvry
 072 197 9305 Engels en Afrikaans (slegs teks)
 071 867 3530 isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Setswana and Sepe (slegs teks)
 KANSA Versorgsentrums

 

Maak kontak met KANSA op sosiale media platforms:

Do you have a question?
Ask CANSA
Book a counselling session

CANSA Tele Counselling

 0800 22 6622 Toll Free
 072 197 9305 English and Afrikaans (text only)
 071 867 3530 isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Setswana and Sepedi (text only)

 

  Find Your Care Centre

Black Beneficiary Base

About Us | Get in Touch

1931 - 2021. 90 Year Anniversary

Sign up to receive news and updates: