Damprook (vaping) is nie ‘n Veilige Vorm van rook vir Jongmense (of Volwassenes) nie, waarsku KANSA
20 Mei 2025 – Op 31 Mei word Wêreld Geen Tabakdag gevier, en die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) vestig die aandag op die wanpraktyke van die tabakbedryf omdat hulle doelbewus damprook produkte aan tieners en jonger kinders bemark. En ‘n dag vroeër sal KANSA saam met die Suid-Afrikaanse jeug stap om die aandag op hierdie kommerwekkende tendens te vestig.
Vanjaar se tema vir Wêreld Geen Tabakdag op 31 Mei is Unmasking the Appeal: Exposing the Industry Tactics on Tobacco and Nicotine Products. Dit gaan daaroor om te onthul hoe die tabak- en nikotienbedryf hul skadelike produkte aantreklik laat lyk, veral vir jongmense, deur manipulerende bemarking, aantreklike geure en misleidende produkontwerpe. (Sien infografieke en SlideShare…)
Op 30 Mei vanjaar bied KANSA, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Tabakvrye Jeugforum (SATFYF), jeuggeleide staptogte in Kaapstad, Durban, Bloemfontein en Johannesburg aan om die aandag te vestig op die groot tabakmaatskappye wat hul produkte doelgerig aan jongmense bemark. Staptogte vind plaas van 09:00 tot 12:00 op die dag en jongmense word aangemoedig om deel te neem – kontak asseblief mdlamini@cansa.org.za om deel te neem.
Ná die stapgeleenthede sal KANSA en SATFYF ‘n memorandum van eise aan die parlement voorlê wat steun verleen vir die formulering van die Wetsontwerp op Tabakbeheer. Die twee organisasies sal die portefeuljekomitee oor gesondheid aanmoedig om voort te gaan om die gesondheid van die land te prioritiseer en die goedkeuring van die Wetsontwerp op die Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Afleweringstelsels te bespoedig. Hulle sal ook beklemtoon dat vertragings sal lei tot verhoogde werwing van jongmense deur die tabakbedryf, wat tot hoër koerse van nikotienverslawing en tabakverwante siektes, insluitend kanker lei.

Lesego Mateme, projekkoördineerder by SATFYF, sê: “In Johannesburg stap ons na die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika om ‘n memorandum in te dien wat daarop gemik is om bewustheid oor die gevare van tabakverwante produkte te verhoog. Ons wil veral die skadelike gevolge beklemtoon van die toelaat van die subliminale advertensies en bevordering van hierdie produkte deur uitsaaikanale. Sulke promosies hemel dikwels die gebruik van damprook en hubbly-bubbly op en assosieer dit met ‘n luukse leefstyl en sukses, wat die publiek – veral jongmense – mislei oor die risiko’s wat daaraan verbonde is.
KANSA waarsku jongmense en hul ouers, voogde en opvoeders dat damprook nie ‘n veilige opsie is nie. Minenhle Dlamini, KANSA se Tabakbeheerprogram-koördineerder en maatskaplike werker, voeg by: “Ten spyte van bewerings dat damprook ‘n ‘onskadelike alternatief’ vir rook is, is daar steeds toenemende bewyse van ernstige gesondheidsrisiko’s. Hierdie risiko’s sluit in nikotienverslawing, longskade en die verhoogde waarskynlikheid om na tradisionele tabakprodukte oor te gaan. ‘n Nuwe generasie nikotien-afhanklike individue word so geskep met oënskynlik onskuldige gegeurde damprook produkte en stylvolle, tegnologie-geïnspireerde ontwerpe wat jong verbruikers teiken.
Die probleem in Suid-Afrika
- ‘n *2023-studie het bevind dat 16.83% van die 25 149 Suid-Afrikaanse hoërskoolleerlinge (graad 8 tot 12) van 52 skole wat ondervra is, damprookprodukte gebruik, terwyl 36.71% gerapporteer het dat hulle damprookprodukte gebruik het. Die toename in damprook het volgens graad toegeneem, maar het nie afgehang van hoe welvarend die skoliere is nie. Van die skoliere wat damprook, het 47% dit binne die eerste uur nadat hulle wakker geword het gedoen, wat op hoë nikotienverslawing dui.
- Suid-Afrika se huidige tabakbeheerbeleid reguleer nie damprook effektief nie wat die tabakbedryfbedryf in staat stel om wetlike skuiwergate te benut.
- Nikotienverslawing onder adolessente word gekoppel aan kognitiewe inkorting, verhoogde angs en ‘n verhoogde risiko van rookverwante siektes wat later in die lewe kan ontwikkel.
- Damprook-winkels en aanlyn kleinhandelaars versuim dikwels om ouderdom te verifieer, wat toegang vergemaklik vir minderjarige gebruikers.
Die 2023 Big Tobacco Tiny Target Suid-Afrikaanse studie, wat deur SATFYF gedoen is, het aan die lig gebring dat tabakprodukte doelgerig verkoop, vertoon en bemark word om kinders te lok. Big Tobacco, Tiny Targets is ‘n wêreldwye veldtog wat die bemarking van die tabakbedryf monitor wat jongmense teiken deur die advertensies van tabak- en nikotienprodukte (TNP‘s) naby laer- en sekondêre skole waar te neem.
Die 2023-studie het altesaam 409 TNP-verkoopspunte binne ‘n radius van 300 meter van laer- en sekondêre skole in Kaapstad, Durban, Johannesburg, Pietermaritzburg, Pretoria en Stellenbosch uitgewys. Bykans die helfte, naamlik 45,2% van die verkoopspunte was spaza-winkels en klein kruidenierswinkels. Dit het getoon dat die meerderheid (92,2%) van hierdie verkoopspunte sigarette verkoop het en 68,2% van hulle het hierdie produkte op kinders se ooghoogte uitgestal.**
KANSA se voorgestelde oplossings
- Strenger regulasies: KANSA doen ‘n beroep om die versnelling van die Wetsontwerp op die Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Afleweringstelsels om kindervriendelike geure te verbied, streng advertensiebeheer in te stel en ouderdomsverifikasie vir alle tabakverwante produkaankope sodoende af te dwing.
- Onderwys en bewustheid: Skole, ouers en gemeenskapsleiers moet omvattende anti-damprook-veldtogte van stapel stuur om jongmense op te voed oor die verborge gevare van damprook, insluitend die impak daarvan op breinontwikkeling.
- Sosiale media aanspreeklikheid: Strenger regulasies oor betaalde beïnvloederspromosies moet geïmplementeer word om misleidende bemarkingstaktieke te voorkom.
- Hou tabakmaatskappye aanspreeklik: KANSA ondersteun hoër belasting op damprookprodukte om bekostigbaarheid te beperk en jeugopname te ontmoedig.
- Toegang tot staak ondersteuning: Die regering en gesondheidsorganisasies moet toeganklike nikotienverslawingsbehandeling en -beradingsdienste aanbied vir jongmense wat wil ophou.
KANSA bied ‘n gratis aanlyn rookstaak ondersteuningsprogram aan wat leiding, mentorskap en praktiese hulpmiddels verskaf om rokers te help om permanent op te hou.
*Electronic cigarette usage amongst high school students in South Africa: a mixed methods approach – eClinicalMedicine Richard N. van Zyl-Smita, Samantha Filby, Gurveen Soina, Jacqueline Hoarec, Asya van den Bosch, Sebastian Kurten. Electronic cigarette usage amongst high school students in South Africa: a mixed methods approach. eClinical Medicine. 2024; 78:10297010(2):123-132.
** South African Tobacco Free Youth Forum Big Tobacco, Tiny Targets South Africa 2023 [Fact Sheet]. Accessed May16,2025.
https://satfyf.org.za/wp-content/uploads/2023/06/SATFYF-FACT-SHEET-Final-Copy-30-May.pdf
(Vir meer inligting, kontak asseblief vir Lucy Balona, Hoof: Bemarking en Kommunikasie by KANSA per e-pos lbalona@cansa.org.za. Skakel 011 616 7662 of op haar selfoon 082 459 5230).
Navrae KANSA
0800 22 6622 Tolvry
072 197 9305 Engels en Afrikaans (slegs teks)
071 867 3530 isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Setswana and Sepe (slegs teks)
KANSA Versorgsentrums
Maak kontak met KANSA op sosiale media platforms:

