The responsibility rests with patients to contact CANSA for assistance. Read more...

Wie Versorg Kankerpasiënte se Versorgers?

English Media Release 

Internasionale Kankeroorwinnaarsdag word in Junie gevier, en die kollig is nie net op oorwinnaars nie, maar ook op hulle versorgers.

#InternationalCancerSurvivorsMonth #CANSACares #CANSACareAndSupport #CANSATeleCounselling

“Dit is veeleisend, beide fisies en emosioneel, om iemand wat met kanker saamleef, te versorg,” sê Lisa Strydom, Nasionale Bestuurder: Sorg- en Ondersteuningsprogramme vir die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA). “In meeste gevalle is die versorger ’n familielid of vriend wat vrywillig na die pasiënt omsien.”

Tipiese take van ’n versorger kan insluit om iemand te help bad of aantrek, huishoudelike werk te doen, etes voor te berei, rekeninge te betaal, medikasie toe te dien, of namens iemand anders met dokters en verpleegsters te praat. In baie gevalle tree familielede of vriende van kankerpasiënte as versorgers op.

Strydom sê versorgers wat die ernstigheid van die pasiënt se situasie in die gesig staar, verontagsaam dikwels hulle eie behoeftes en fokus net

Ronni Goodier van der Byl

daarop om na hul geliefdes om te sien. Dit kan lei tot die agteruitgang van versorgers se eie fisiese- en geestesgesondheid, en hulle kan simptome ervaar soos kroniese moegheid, depressie, geïrriteerdheid, hoofpyn, maagpyn, naarheid, swak aptyt of ooreet, en kan sukkel om te slaap.

Ronni Goodier van der Byl was haar man se primêre versorger tydens sy 11-maand lange stryd met kanker, totdat hy gesterf het. “Eers na sy dood het ek geleer dat ons eintlik moes gesels oor dit wat besig was om met hom te gebeur, insluitend ons vrese, hartseer en verlies. Ons het die onderwerp oor sy moontlike sterfte vermy.”

Van der Byl sê sy kon 24/7 by die huis na hom omsien en sal dit weer doen sou sy die kans kry. Toe sy egter vyf jaar later ook met kanker gediagnoseer was, het sy verkies om nie ’n versorger te kry nie en het die siekte op haar eie hanteer. Haar behandeling het ’n operasie, chemoterapie en bestraling ingesluit.

Vir van der Byl is dit nou drie jaar na die operasie en ’n skandering in Januarie vanjaar het gewys dat sy kankervry is. Gelukkig het sy vriende gehad wat gereeld gaan kyk het hoe dit met haar gaan. “Hulle het tuisgemaakte hoendersop en vars blomme gebring en my stil-stil geselskap gehou terwyl ek groot dele van die dag omgeslaap het,” sê sy.

Dit bekommer Strydom dat sommige versorgers in stilte swaarkry. “Wanneer versorgers oor ’n lang periode na kankerpasiënte omsien, is dit belangrik dat hulle ook na hulself kyk.”

Dit sluit in deurlopende emosionele ondersteuning en berading, blaaskanse, die handhaaf van ’n gesonde leefstyl, aanvaarding dat hulle nie alles perfek kan doen nie, bereidwilligheid om vir hulp te vra, so veel as moontlik oor kanker te leer en klein oorwinnings te vier.

“Indien versorgers nie familie of vriende het na wie hulle kan uitreik nie, en byvoorbeeld nie berading kan bekostig nie, kan hulle vir KANSA kontak vir gratis riglyne en ondersteuning,” voeg sy by.

“KANSA het gedetailleerde riglyne vir versorgers op ons webwerf gepubliseer. Ons bied ook ’n vertroulike en gratis teleberadingsdiens vir kankerpasiënte en hulle familielede, asook vir versorgers aan.”

KANSA weet dat familielede of vriende nie altyd weet wat om te sê of te doen wanneer hulle ’n geliefde wat met kanker gediagnoseer is ondersteun nie. Soms is dit selfs moeiliker wanneer dit ’n kollega of werknemer is; kollegas en werknemers is nie noodwendig vriende nie, en die verhouding voel dus meer formeel. Dit is soms moeilik om die regte woorde te vind, aangesien die kollega en werkgewer respek wil toon ten tyde van die ondersteuning.

Volgens Strydom, “Om hiermee te help het KANSA wenke en riglyne vir ondersteuning saamgestel wat geskik is vir die werksplek; dit is op ons webwerf beskikbaar.”

KANSA het ook ondersteuningsgroepe vir versorgers op Facebook en ander platforms geskep, en ondersteuning is ook by KANSA se Sorgsentrums beskikbaar. “Hierdie ondersteuningsgroepe bring kankerpasiënte en versorgers in aanraking met ander wat in soortgelyke situasies is. Baiemaal kan net die deel van soortgelyke ervarings ’n groot positiewe verskil in hierdie mense se lewens maak,” sê Strydom.

Lizelle Petzer Pettison, ’n lid van een van KANSA se WhatsApp-ondersteuningsgroepe het onlangs aan ’n ander lid geskryf, “Ek is so jammer dat jy so voel, maar weet dit is normaal om so te voel. Ons oordeel nie mekaar op hierdie groep nie. Ons ondersteun mekaar. Moenie sleg of skuldig hieroor voel nie. Dit verg baie om ’n geliefde te versorg.”

As deel van ’n versorgers-seremonie of ererondte by KANSA se ‘Relay For Life’-geleenthede (https://relayforlife.org.za/), word kankerversorgers ook deur kankeroorwinnaars en pasiënte erken.

(Vir meer inligting, kontak asseblief vir Lucy Balona, Hoof: Bemarking en Kommunikasie by KANSA per e-pos lbalona@cansa.org.za. Skakel 011 616 7662 of op haar selfoon 082 459 5230.)

KANSA bied ‘n unieke geïntegreerde diens aan die publiek en mense geaffekteer deur kanker. As ‘n leidende rolspeler in kankernavorsing word die wetenskaplike bevindinge en kennis wat deur ons navorsing opgedoen word, gebruik vir ons gesondheidprogramme en om ons rol as waghond tot groter voordeel van die publiek te versterk. Ons gesondheidprogramme bestaan uit bewusmaking van gesondheid, siftingstoetse vir kanker en veldtogte oor gesondheidopvoeding, KANSA Sorgsentra wat ‘n wye verskeidenheid van sorg- en ondersteuningsdienste bied aan mense wat deur kanker geraak word, stoma en ander kliniese ondersteuning en organisatoriese bestuur, verhuring van mediese toerusting sowel as a tolvrye nommer wat geskakel kan word om inligting en ondersteuning te bekom. Ons bied ‘n gratis Tele Beradingsdiens in sewe tale aan. Ons verskaf ook pasiëntesorg en ondersteuning in die vorm van 8 KANSA Sorgtuistes in die hoof metropolitaanse areas vir weg-van-die-huis kankerpasiënte, sowel as KANSA-TLC verblyf aan en ondersteuning van ouers en voogde van kinders wat behandeling vir kanker ontvang.

Navrae KANSA

 0800 22 6622 Tolvry
 072 197 9305 Engels en Afrikaans (slegs teks)
 071 867 3530 isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Setswana and Sepe (slegs teks)
 KANSA Versorgsentrums

 

Maak kontak met KANSA op sosiale media platforms:

Do you have a question?
Ask CANSA
Book a counselling session

CANSA Tele Counselling

 0800 22 6622 Toll Free
 072 197 9305 English and Afrikaans (text only)
 071 867 3530 isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Setswana and Sepedi (text only)

 

  Find Your Care Centre

About Us | Get in Touch

1931 - 2021. 90 Year Anniversary

Sign up to receive news and updates: