Vroeë Opsporing Speel ’n Belangrike Rol
Gesondheidsbewustheidsmaand vir mans word wêreldwyd in November erken, met 19 November wat as die Internasionale dag vir Mans gevier word. Hierdie dag erken die positiewe waarde wat mans tot hul families en gemeenskappe bydra en skep bewustheid van mans se gesondheid en welstand. Die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) plaas die kollig op die top vyf kankers wat mans in Suid-Afrika affekteer en moedig mans aan om vir gereelde ondersoeke te gaan, nie net tydens November nie, maar dwarsdeur die jaar.
#MensHealth #CANSACares #LowerCancerRisk #CANSAScreening
Lorraine Govender, KANSA se Nasionale Bestuurder: Gesondheidsbevordering, verduidelik, “Mans moet proaktief wees wanneer dit by hul gesondheid kom. KANSA moedig maandelikse testikulêre selfondersoeke aan, asook jaarlikse ondersoeke en kanker siftingstoetse vir vroeë opsporing, aangesien simptome soms eers wys nadat dit reeds versprei het. Die aantal mans wat met laat-stadium kanker gediagnoseer word, word al hoe meer en dit is sorgwekkend.”
Prostaatkanker bly nommer een onder die top vyf kankers vir mans, met een in 15 mans wat die risiko loop, volgens die statistieke van die Nasionale Kankerregister (NKR) 2019. Dit groei dikwels stadig en rig gewoonlik nie groot skade aan nie, maar sommige tipes is meer aggressief en kan vinnig versprei as dit nie behandel word nie.
Siftingstoetse lei na vroeë opsporing, wat meer effektiewe behandeling moontlik maak asook ’n beter kans op herstel. KANSA beveel jaarlikse prostaat-spesifieke antigeen (PSA) bloedtoetse aan om prostaat-onreëlmatighede op te spoor, vir alle mans vanaf die ouderdom van 40 jaar. Hoë PSA-vlakke kan inflammasie van die prostaat of selfs kanker aandui. Die PSA-toets kan ook gepaardgaan met ’n digitale rektale ondersoek. PSA-toetse is landwyd by KANSA Sorgsentra per afspraak beskikbaar, teen bekostigbare tariewe.
Kanker-oorwinnaar Andreas Kleynhans wat tydens ’n roetine-ondersoek met graad 1 prostaatkanker gediagnoseer was, sê, “Prostaatkanker was ’n groot skok aangesien ek my lewe lank gesond was. Sewe maande later het die kanker na die heupbeen versprei en was nou al op graad 4, wat beteken dat hierdie tipe kanker nie genees kon word nie, maar dat dit vertraag en simptome beheer kon word.”
Sy raad vir mans is, “Laat julle PSA-vlakke asseblief gereeld toets. Prostaatkanker is geneesbaar wanneer dit vroeg opgespoor word. En selfs al is dit ver gevorder soos myne, is daar hoop. Ja, ’n digitale rektale ondersoek is ’n bietjie ongemaklik die eerste keer, maar dis noodsaaklik. Op die ou end hang dit af hoe jy daaroor dink en wat dit vir jou gesondheid kan beteken. Jy kan nie bepaal wat met jou gebeur nie, maar wel hoe jy daarop reageer. Ek kies om my storie te vertel en dit in iets positiefs te omskep.”
Kolorektale-, of kolonkanker is die tweede mees algemene kanker onder mans met een in 77 mans wat gediagnoseer word volgens die NKR (2019). Daar is bewyse van baie jonger individue wat met kolorektale kanker gediagnoseer word.
Longkanker is die derde mees algemene kanker onder mans en is die hoof-oorsaak van kankersterftes. Daar is ’n gebrek aan bewustheid van longkanker in Suid-Afrika, daarom verskaf KANSA inligting oor longkanker en reël gesondheidsveldtogte om mense op te voed en bewusmaking te skep.
Nie-Hodgkin-limfoom (NHL) is kanker van die limfweefsel, wat die limfnode insluit, asook die milt en ander organe van die stelsel. Dis die vierde mees algemene kanker onder mans en dit word verwag dat een in 176 mans NHL sal ontwikkel, volgens die NKR van 2019.
Melanoom het blaaskanker vervang as die vyfde mees algemene kanker in mans met een in 168 mans wat in hul leeftyd die risiko beloop, wat ’n totale verhoging in velkankersyfers insluit. Dit is dalk danksy verbeterde siftingstoetse of ’n totale verhoging in getalle. Melanoom is minder algemeen as ander velkankers, maar dis die gevaarlikste.
Govender voeg by, “Vroeë opsporing is noodsaaklik wanneer dit by die oorkoming van kanker kom. Herken veranderinge in jou liggaam en neem aksie teen enige veranderinge of simptome want ontwikkel. Gaan ook gereeld vir siftingstoetse.”
David Lucas, prostaatkanker-oorwinnaar en CANSA Relay For Life Global Hero of Hope moedig mans aan om vir ondersteuning te vra en van dienste soos KANSA se ‘Mans ondersteun Mans’-groepe gebruik te maak.
“Wanneer mans sien dat mense openlik oor hulle uitdagings praat, word hulle meer ontspanne en vra vrylik vrae, praat oor hulle vrese en angs en hanteer ook die siekte wat ’n wêreldwye broederskap het,” sê hy.
Govender sluit af, “Indien jy of ’n geliefde met kanker gediagnoseer word, kontak u plaaslike KANSA Sorgsentrum vir toegang tot sorg- en ondersteuningsprogramme, soos die huur van mediese toerusting, pruike, berading, tele-berading, ondersteuningsgroepe, aanlyn ondersteuningsgroepe en hulpmiddels, asook KANSA Sorgstuistes waar pasiënte wie behandeling ver van die huis af kry, tydelik kan woon. Ondersteuning en inligting is ook via die KANSA Hulplyn beskikbaar op 0800 22 6622 of e-pos info@cansa.org.za
(Vir meer inligting, kontak asseblief vir Lucy Balona, Hoof: Bemarking en Kommunikasie by KANSA per e-pos by lbalona@cansa.org.za of skakel 082 459 5230).
Navrae KANSA
0800 22 6622 Tolvry
072 197 9305 Engels en Afrikaans (slegs teks)
071 867 3530 isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Setswana and Sepe (slegs teks)
KANSA Versorgsentrums
Maak kontak met KANSA op sosiale media platforms: