Tabak-maatskappye Teiken Tieners
20 May 2024 -Die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) vestig die aandag op Wêreld Geen Tabak-dag (31 Mei) onder die tema ‘Beskerm kinders teen die inmenging deur die tabak-industrie’. Dit fokus daarop om sterker regulasies te bevorder wat jongmense teen skadelike tabakprodukte en bedrieglike reklame beskerm.
#NoTobacco #WorldNoTobaccoDay
Volgens KANSA word jongmense al hoe meer aan die aanloklikheid van tabakprodukte blootgestel, deur middel van uitgebreide sosiale media veldtogte en stromingsplatforms. Dit hou ’n groot bedreiging vir hulle gesondheid en welstand in. Tabakprodukte word verkoop, vertoon en bemark op maniere wat kinders lok.
“Tabakgebruik dra grotendeels by tot verskeie kankers. Dit is verantwoordelik vir 25% van alle kankerverwante sterftes wêreldwyd, wat uitloop op ongeveer 2.5 miljoen sterftes jaarliks. Rook dra by tot ongeveer 85% van alle longkanker-verwante sterftes; dit bewys die kritiese behoefte vir gesamentlike pogings om tabakgebruik wêreldwyd te verlaag,” sê Lorraine Govender, KANSA se nasionale bestuurder: gesondheidsprogramme.
“Meer as 38 miljoen jongmense wêreldwyd tussen die ouderdomme van 13 tot 15 jaar (ongeveer 10%) gebruik een of ander vorm van tabak. Die Suid-Afrikaanse Wêreldwye Tabak Meningsopname vir Volwassenes wat in 2021 gedoen was, dui aan dat 23.9% van jongmense tussen die ouderdomme van 15 en 24 tabakprodukte gebruik.”
Sy voeg by, “In die verlede kon tabakmaatskappye musiek- en sportgeleenthede borg, dikwels op die kampusse van tersiêre instansies, waar hulle gratis produkte kon uitdeel om tieners aan te moedig om dit te probeer.”
Deesdae, met streng reklame- en borgskap-regulasies wat nie meer hierdie tipe bemarking toelaat nie, asook ’n verbod op tabakverwante advertensies op verskeie platforms, moes tabakmaatskappye ander, minder ooglopende maniere vind om mense, veral jongmense, uit te lok om hulle produkte te rook.
Die gevolg is dat die tabakbedryf tot misleidende bemarking oorgegaan het. Byvoorbeeld, e-sigarette word as minder skadelik as gewone sigarette bemark, met geure soos ‘blueberry ice’, ‘cool mint’ en ‘creamy tobacco’, wat jongmense aanloklik vind.
“Dit word as ‘verminderde risiko’ en ‘rookvry’ bemark. Hierdie produkte, net soos tabak, bevat egter verslawende nikotien en hou gesondheidsrisiko’s in. Dit ondermyn ook pogings om die aantal mense wat as gevolg daarvan kanker ontwikkel en sterf, te verminder. Ons is dit aan die volgende generasie verskuldig om hulle teen tabakprodukte en bedrieglike aanlyn reklame te beskerm, en die industrie se aggressiewe taktieke om hulle kliëntebasis uit te brei, teen te staan,” sê Govender.
Die gesofistikeerde gebruik van digitale platforms deur tabakmaatskappye om aan jongmense te bemark is ook ’n groot probleem, aangesien dit die afdwing van advertensie-beperkings ingewikkeld maak. Hierdie maatskappye eksploiteer die wye omvang van sosiale media, en gebruik beïnvloeders wat nie altyd hulle assosiasie met tabakreklame bekend maak nie.
Verhitte tabakprodukte word bemark as ’n gesonder alternatief tot sigarette rook, maar hierdie produkte se langtermyn effekte word nog nagevors. Die produkte is ontwerp om tabak sonder verbranding te verhit. Dit genereer ’n aërosol (nie rook nie) wat nikotien bevat. Okkapype (hookahpype), of waterpype, word gebruik om gegeurde tabak te rook. Die tabak word deur houtskool verhit en die rook beweeg deur water voor inaseming. Okkapype is gewild wanneer mense gesellig verkeer en sommige ouers laat ook hulle kinders toe om dit te gebruik. Dit hou egter steeds gesondheidsrisiko’s in as gevolg van die inaseming van tabakrook en ander skadelike stowwe soos koolstofmonoksied, metaal en chemikalieë wat kanker veroorsaak.
Die ‘2023 Big Tobacco Tiny Target South Africa’-studie, wat deur die Suid-Afrikaanse Tabakvrye Jeugforum gedoen is en deel van ’n wêreldwye veldtog uitmaak, het 409 verkoopspunte in Suid-Afrikaanse stede bestudeer wat tabak- en nikotienprodukte binne ’n 300-meter radius van primêre en sekondêre skole verkoop. Die bevindings het gewys dat omtrent 68% van sigaret-vertoonkaste by ’n kind se ooghoogte was, en dat e-sigarette die mees bekende opkomende produk was wat verkoop word. Byna twee-derdes van verkoopspunte het gegeurde sigarette verkoop, omtrent 38% het snuif (’n rooklose tabakproduk) verkoop, byna 30% het okkapype verkoop, byna 19% sigare, 15% pyptabak en 7% ‘snus’ (klam orale tabak). Amper die helfte van die verkoopspunte wat hierdie produkte verkoop en bemark het, was spaza-winkels en klein kruidernierswinkels. Byna 20% van universiteitstudente en 16% van hoërskool leerders gebruik tabak.
Govender meen, “Skole speel ’n belangrike rol om te help om hierdie syfers te verlaag. Vir skole om die gebruik van tabak effektief onder hulle leerders te voorkom en te verminder, moet hulle ’n omgewing skep want anti-tabak menings en gedrag aanmoedig. Alhoewel dit reeds help om tabakgebruik vir leerders te verbied, stuur dit ’n sterker en meer konstruktiewe tabakvrye boodskap om ook onderwysers, ander personeel en besoekers te belet.”
Tydens Meimaand, met die aanloop tot Wêreld Geen Tabak-dag op 31 Mei, besoek KANSA-verteenwoordigers ten minste twee skole in elke provinsie om gesprekke met fokusgroepe van graad 4 tot 7 leerders te hou, met die doel om leerders in te lig oor die gevaar van tabakgebruik en hoe die tabakindustrie hulle teiken.
Skole kan KANSA se webwerf besoek vir meer inligting oor opvoedkundige materiale vir hulle geen-tabak veldtogte. KANSA ondersteun die afteken van die Wetsontwerp op Beheer van Tabakprodukte en Elektroniese Afleweringstelsels. Lede van die publiek kan help om KANSA se tabakbeheer-pogings te versterk deur vrywilligers te word.
(Vir meer inligting, kontak asseblief vir Lucy Balona, Hoof: Bemarking en Kommunikasie by KANSA, per e-pos lbalona@cansa.org.za. Skakel 011 616 7662 of op haar selfoon 082 459 5230.)
Bronne
* SAMHSA. Center for Behavioral Health Statistics and Quality. National Survey on Drug Use and Health (NSDUH), 2016.
HHS, Preventing Tobacco Use Among Youth and Young Adults, A Report of the Surgeon General, 2012. HHS, Youth and Tobacco: Preventing Tobacco Use among Young People: A Report of the Surgeon General, 1994, https://www.ncbi.nlm.nih.gov/books/NBK99237/ (p. 49).
CDC, “Projected Smoking-Related Deaths Among Youth-United States,” MMWR 45(44):971-974, November 8, 1996,
U.S. Federal Trade Commission (FTC), Cigarette Report for 2022 (data for top 4 manufacturers only)
World No Tobacco Day 2024: Protecting children from tobacco industry interference | UICC
First National Global Adult Tobacco Survey Highlights Huge Burden Tobacco Use SA
Navrae KANSA
0800 22 6622 Tolvry
072 197 9305 Engels en Afrikaans (slegs teks)
071 867 3530 isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Setswana and Sepe (slegs teks)
KANSA Versorgsentrums
Maak kontak met KANSA op sosiale media platforms: