The responsibility rests with patients to contact CANSA for assistance. Read more...

KANSA Verskaf Hoop en Sorg vir Kinders en Tieners met Kanker 

English Media Release

11 September 2025 – “Elke kind verdien die kans om kanker met waardigheid, vertroosting en hoop te beveg,” sê Anina Meiring, Diensbestuurder: Kinderkankerdienste by die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA). “Ons stap saam met gesinne deur die moeilikste reis van hul lewens. Met elke toestel, elke maaltyd en elke greintjie troos, vergemaklik ons ‘n kind se stryd teen kanker.”  

Elke September verenig die wêreld om lig te werp op die uitdagings van kinderkanker, wat die dringende behoefte aan vroeë opsporing, akkurate diagnose en toegang tot behandeling beklemtoon. In Suid-Afrika word ongeveer 1 000 kinders jaarliks met kanker gediagnoseer, waarvan baie in openbare hospitale met min hulpbronne behandel word.  

Deur sy Tough Living with Cancer (TLC)-program verskaf KANSA mediese toestelle, trooshulpmiddels en voedingsondersteuning aan kinders en tieners landwyd – en bereik pediatriese onkologie-eenhede van Tshwane tot Kaapstad, Kimberley tot Gqeberha, en Johannesburg tot Polokwane.  

In die afgelope jaar alleen het KANSA TLC 63 poorte gelewer om kinders herhaalde naaldprikke te spaar; meer as 1 800 beskermende verbande om teen infeksie te waak; 15 rolstoele en stootwaentjies wat mobiliteit gee aan kinders wat deur behandeling verswak is en 223 voedingsondersteuningspakkies wat kinders help om sterk te bly deur chemoterapie en bestraling.   

“Dit is nie luukshede nie – dit is noodsaaklikhede wat beteken dat ‘n kind hul behandeling met minder trauma en meer waardigheid kan verduur,” voeg Meiring by. “Sonder hierdie soort ondersteuning staar gesinne ‘n nog moeiliker ervaring met kinderkanker in die gesig.”  

Agter baie van hierdie impak is ondersteuners soos die Vlok-familie, wat ten spyte daarvan dat hulle nou in die Verenigde State woon, diep gewortel bly in Suid-Afrika. Vir 13 jaar hou hulle hul September-fondsinsameling ‘Help Towards Hope’ en het sedert 2013 meer as R4,5 miljoen ingesamel – insluitend meer as R550 000 in 2024 alleen.  

“Die Vlok-familie beliggaam die gees van teruggee,” volgens Lisa Strydom, Nasionale Bestuurder: Sorg en Ondersteuning. “Hul toewyding verseker dat kinders poorte, prostetiese oë, mobiliteitshulpmiddels en voedingspakkies kry – dinge wat lewens direk verander. Hulle wys ons hoe globale solidariteit in aksie lyk.” Kom meer te wete en skenk hier …  

The funds raised assist young cancer patients in under-resourced settings

‘n Poort (of port-a-cath) is ‘n klein toestel wat onder die vel ingeplant word en aan ‘n aar gekoppel is. Dit stel dokters in staat om chemoterapie, vloeistowwe of medisyne veilig toe te dien, en om herhaaldelik bloed te trek – alles met minder pyn en stres vir jong pasiënte. In Suid-Afrika is die koste van ‘n poort sowat R4 500, terwyl ‘n pediatriese voedingspakket R350 kos.  

“As ‘n ma van ‘n kind wat ‘n poort deur KANSA se ondersteuning ontvang het, kan ek sê dit is lewensveranderend,” vertel een ouer wat deur KANSA TLC ondersteun word. “My kind huil nie meer by elke naaldprik nie. Daardie soort verligting kan nie in rand en sent gemeet word nie.”  

“Om kinders met kanker te ondersteun is iets wat ons almal kan doen,” sluit Meiring af. “Dit gaan nie net oor geld nie – mense kan trooshulpmiddels, voedingspakkies skenk of selfs hul tyd vrywillig aanbied. Elke bydrae bring hoop vir gesinne wat kinderkanker in die gesig staar.”  

KANSA TLC ondersteun verder die kind wat ‘n ouer of broer of suster het wat met kanker gediagnoseer is wat soms ‘n versorger geword het. Ouers / voogde wat ondersteuning nodig het, word aangemoedig om hul plaaslike KANSA Sorgsentrum te kontak en kan ook by die KANSA TLC Kinderkanker Ondersteuningsgroep op Facebook aansluit, waar hulle met ander in ‘n soortgelyke posisie kan skakel. Ons KANSA Teleberading diens, gratis en beskikbaar in die meeste tale, is ook beskikbaar vir ouers / voogde, kinders met kanker of kinders wie se geliefdes kanker het.  

(Vir meer inligting, kontak asseblief vir Lucy Balona, Hoof: Bemarking en Kommunikasie by KANSA per e-pos lbalona@cansa.org.za. Skakel 011 616 7662 of op haar selfoon 082 459 5230).

KANSA bied ‘n unieke geïntegreerde diens aan die publiek en mense geaffekteer deur kanker. As ‘n leidende rolspeler in kankernavorsing word die wetenskaplike bevindinge en kennis wat deur ons navorsing opgedoen word, gebruik vir ons gesondheidprogramme en om ons rol as waghond tot groter voordeel van die publiek te versterk. Ons gesondheidprogramme bestaan uit bewusmaking van gesondheid, siftingstoetse vir kanker en veldtogte oor gesondheidopvoeding, KANSA Sorgsentra wat ‘n wye verskeidenheid van sorg- en ondersteuningsdienste bied aan mense wat deur kanker geraak word, stoma en ander kliniese ondersteuning en organisatoriese bestuur, verhuring van mediese toerusting sowel as a tolvrye nommer wat geskakel kan word om inligting en ondersteuning te bekom. Ons bied ‘n gratis Tele Beradingsdiens in sewe tale aan. Ons verskaf ook pasiëntesorg en ondersteuning in die vorm van 8 KANSA Sorgtuistes in die hoof metropolitaanse areas vir weg-van-die-huis kankerpasiënte, sowel as KANSA-TLC verblyf aan en ondersteuning van ouers en voogde van kinders wat behandeling vir kanker ontvang.

Navrae KANSA

 0800 22 6622 Tolvry
 072 197 9305 Engels en Afrikaans (slegs teks)
 071 867 3530 isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Setswana and Sepe (slegs teks)
 KANSA Versorgsentrums

 

Maak kontak met KANSA op sosiale media platforms:

Do you have a question?
Ask CANSA
Book a counselling session

CANSA Tele Counselling

 0800 22 6622 Toll Free
 072 197 9305 English and Afrikaans (text only)
 071 867 3530 isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Setswana and Sepedi (text only)

 

  Find Your Care Centre

Black Beneficiary Base

Media Queries

How Can CANSA Improve its Service

About Us | Get in Touch

1931 - 2021. 90 Year Anniversary

Sign up to receive news and updates:

Sign up for our eNewsletter
– stay updated on: