Mans Aangemoedig om van Kanker-siftingstoetse Gebruik te Maak
4 November 2020 – KANSA nooi hierdie November mans uit om verantwoordelikheid vir hul gesondheid te neem en om gebruik te maak van die kanker-siftingstoetse wat by KANSA Sorgsentrums beskikbaar is. Volgens die 2016 Nasionale Kankerregister (NKR) is die vyf mees algemene kankers wat mans affekteer* prostaat-, kolorektale-, long-, nie-Hodgkin-limfoom en blaaskanker. Infografieke… #CANSAscreening #MensHealth
Gerda Strauss, KANSA se Hoof van Dienslewering sê, “Alhoewel dit nie moontlik is om vir al hierdie kankertipes te toets nie, kan mans gebruik maak van die siftingstoetse wat wel beskikbaar is. Die leeftydrisiko vir prostaatkanker vir mans in SA is 1 in 17 (NKR 2016). Mans hoef nie vir ingrypende siftingstoetse bang te wees nie; ’n eenvoudige Prostaatspesifieke Antigeen (PSA) bloedtoets kan prostaatspesifieke antigeenvlakke vasstel asook of mans in gevaar van prostaatkanker is. Vroeë opsporing verbeter die resultate van behandeling, so ons moedig mans bo 40 jaar aan om nie te uit te stel nie. Maak hierdie November gebruik van ons verlaagde fooi vir PSA-toetse by plaaslike KANSA Sorgsentrums.”
Mans kan ook die Hello FCB-video getiteld ‘Don’t Fear the Finger’ kyk om hulle gerus te stel met ’n bietjie humor daarby. Dit is veral belangrik om vir ’n kanker-siftingstoets te gaan wanneer daar ’n geskiedenis van kanker in die familie is. Veertigjarige mans met ’n geskiedenis van prostaatkanker in hul ma of pa se familie, of met ’n eerstegraadse familielid (pa, broer of seun) wat op ’n vroeë ouderdom (jonger as 65 jaar) met prostaatkanker gediagnoseer is, moet vir ’n siftingstoets gaan. Vanaf die ouderdom van 45 moet alle mans getoets word.
Nog iets om in gedagte te hou, is dat die kans vir prostaatkanker moontlik verhoog wanneer daar ’n familiegeskiedenis is van eerstegraadse vroulike familielede wat met borskanker, wat met BRCA1 of BRCA2 genemutasie verwant hou, gediagnoseer was (eerstegraadse famililede sluit in ma, ouma, susters en tantes).
“KANSA gaan ook ’n meningsopname onder prostaatkanker-pasiënte doen om uit te vind hoe ons hulle beter kan ondersteun. Ons moedig alle mans aan om deel te neem sodat ons kan help om beter maniere te vind om met hulle te kommunikeer en hulle ook te help om hulle kankerdiagnose te hanteer,” voeg Strauss by. VUL OPNAME IN BY HIERDIE SKAKEL: www.surveymonkey.com/r/K33G6HT
Mans kan hulle kanse om prostaat- en kolorektalekanker te kry verminder deur ’n gebalanseerde dieet te volg (insluitend baie vrugte en groente), ’n gesonde gewig te handhaaf, en minder rooivleis en hoëvet suiwelprodukte te eet. Rook is een van die grootste risikofaktore vir long- en blaaskanker. Mans kan hulle kanse om hierdie kankers te kry verminder deur tabak en verwante produkte te vermy.
Testikulêre kanker kom wel by minder mans voor, maar het ’n hoër voorkoms in jonger mans. Volgens NKR 2016 is die leeftydrisiko 1 in 1 436. Gereelde maandelikse selfondersoeke kan help met vroeë opsporing. Mans tussen die ouderdomme van 15 tot 49 moet hulle testikels vir ertjiegrootte klonte ondersoek, verkieslik na ’n bad of stort, aangesien dit ’n teken van testikulêre kanker kan wees. Vind instruksies op die KANSA-webtuiste oor hoe om ’n selfondersoek te doen.
Strauss sluit af, “Dis belangrik vir mans wat met kanker gediagnoseer word om te onthou dat hulle nie alleen is nie. KANSA bied ’n ondersteuningsdiens wat advies aan kanker-oorwinnaars en -pasiënte gee. Praat met ’n berader by jou plaaslike KANSA Sorgsentrum of skakel ons noodlyn by 0800 22 6622 om ’n afspraak vir tele-berading te maak. Of stuur ’n e-pos aan counselling@cansa.org.za. Jy kan ook by die Champions of Hope Faceboek-groep vir kanker-oorwinnaars aansluit en met ander gesels wat soortgelyke uitdagings ervaar.”
(https://www.facebook.com/groups/ChampionsofHope)
*met uitsondering van melanoom
(Vir meer inligting, kontak asseblief vir Lucy Balona, Hoof: Bemarking en Kommunikasie by KANSA per e-pos lbalona@cansa.org.za. Skakel 011 616 7662 of op haar selfoon 082 459 5230.)
Navrae KANSA
0800 22 6622 Tolvry
072 197 9305 Engels en Afrikaans (slegs teks)
071 867 3530 isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Setswana and Sepe (slegs teks)
KANSA Versorgsentrums
Maak kontak met KANSA op sosiale media platforms: