Klimaatsverandering – Verskuilde Risikofaktor vir Velkanker
12 Desember 2023 – Die ingewikkelde verhouding tussen klimaatsverandering, die toename in ultraviolet (UV)-bestraling, en die verhoging van velkankergevalle wêreldwyd, is ’n groeiende bekommernis vir mediese werkers en KANSA (lees feiteblad). Soos globale weerpatrone veranderinge as gevolg van klimaatsverandering ondergaan, hou die daaropvolgende vermeerdering van UV-strale ’n hoër omgewingsrisiko vir velkanker in, veral in gebiede soos Suid-Afrika met subtropiese ligging, klimaat en topografie.
Volgens KANSA dra die verwarmde klimaat, saam met faktore soos lugbesoedeling van (die brand van) fossielbrandstof by tot die toename in karsinogeen-effekte, wat die moontlike skade van UV-bestraling op mense se gesondheid versterk. Die toenemende blootstelling aan sonkrag ultraviolet bestraling word as ’n groot risikofaktor vir velkanker beskou, wat deur versterkte UV-blootstelling veroorsaak word.
“Velkanker is ’n ernstige gesondheidsprobleem,” verduidelik Lorraine Govender, KANSA se Nasionale Bestuurder: Gesondheidsbevordering. “Daar is twee hooftipes velkanker: velmelanoom en nie-melanoom velkanker (ook bekend as keratinosiet karsinoom), wat uit basaalselkarsinoom en plaveiselselkarsinoom bestaan, wat die mees algemene tipes velkankers is.”
Daar is wêreldwyd ’n toename in alle tipes velkanker. Dit sluit Suid-Afrika in, wat koste-implikasies met betrekking tot diagnose en behandeling inhou. Die 2019 Nasionale Kankerregister-statistieke wys melanoom as die vyfde-hoogste algemene kanker in mans en sesde onder vroue in Suid-Afrika.
Govender sê, “KANSA se doelwit is om mense te help om velkanker beter te verstaan, aksies aan te moedig wat die risiko kan verlaag en om by te dra tot die globale gesprek oor hierdie groeiende gesondheidsprobleem.”
Om die waarskuwingstekens van velkanker te kan herken, is noodsaaklik vir vroeë opsporing en om betyds in te gryp. Moesies, bruin kolle en velgroeisels, gewoonlik skadeloos, kan risiko’s inhou, veral vir diegene met meer as 100 moesies, wat ’n groter risiko vir melanoma beloop. Waaksaamheid om mens se eie vel te verstaan en gou veranderinge in moesies uit te wys, is uiters belangrik.
Hierdie tekens, in Engels bekend as ABDCE, dien as ’n waardevolle gids:
- Asimmetrie (asymmetry): Halwes wat nie by mekaar pas wanneer jy ’n lyn deur die moesie trek nie.
- Grens onreëlmatighede (border): Rande is skulpagtig of gekerf.
- Kleurvariasies (colour): Verskillende skakerings of onkonvensionele kleure mag voorkom.
- Deursnit (diameter): Moesies wat wyer as ’n uitveër is.
- Ontwikkelende karaktertrekke (evolving): Behels enige verandering in grootte, vorm, kleur, hoogte, of nuwe simptome soos bloei of jeuk.
Buiten bogenoemde tekens, lê dermatoloë ook klem op vinnige groei.
Spoedige veranderinge in grootte oor ’n kort periode, dui op moontlike gevaar en moet heel moontlik onmiddellik deur ’n dermatoloog ondersoek word.
Om die risiko van velkanker te verminder is ’n proaktiewe benadering wat individue kan volg om hulle gesondheid te beskerm. Hoof voorkomingsmaatreëls sluit in om son blootstelling te vermy, veral tussen 10:00 en 15:00 wanneer UV-bestraling die sterkste is. Kry ekstra beskerming deur skadu te soek of ’n UV-sambreel te gebruik. Die dra van beskermende klere, soos breërand-hoede en UV-beskermende klere, beskerm die vel teen skadelike strale. Sonbrille met ’n UV-beskerming van UV400 beskerm die oë. Gebruik ’n breë-spektrum sonskermroom met ’n sonbeskermingsfaktor (SPF) van 20 of hoër, volgens veltipe. Smeer dit 20 minute voor sonblootstelling aan, daarna elke twee ure, en ook na swem.
“Soek vir sonskermroom, klere, hoede, en somer bykomstighede met die KANSA se Seël van Erkenning,” deel Govender. “KANSA se toekenningsproses verseker dat individue met sekerheid op goedgekeurde produkte kan staatmaak.”
Gereelde veltoetse, met die riglyne vir die nagaan van moesies, help met vroeë opsporing. Vermy sonbeddens en let op veranderinge in die voorkoms en sensasie van jou vel; wat sodoende kan help om kankerrisiko te verlaag.
“Dis noodsaaklik om bewusmaking oor die risiko’s van velkanker te skep,” sluit Govender af. “KANSA is daartoe toegewyd om individue met die kennis en gereedskap toe te rus om hulself teen die impak van verlengde sonblootstelling te beskerm.”
(Vir meer inligting, kontak asseblief vir Lucy Balona, Hoof: Bemarking en Kommunikasie, by KANSA per e-pos lbalona@cansa.org.za. Skakel 011 616 7662 of op haar selfoon 082 459 5230.)
Navrae KANSA
0800 22 6622 Tolvry
072 197 9305 Engels en Afrikaans (slegs teks)
071 867 3530 isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Setswana and Sepe (slegs teks)
KANSA Versorgsentrums
Maak kontak met KANSA op sosiale media platforms: