Fokus op servikskanker tydens Vrouemaand
“Suid-Afrikaanse vroue het oor en oor bewys dat hulle enigiets kan doen waarop hulle besluit. Dit is egter ook waar dat baie vroue ander se welstand voor hulle eie plaas”, sê Lorraine Govender, Nasionale Bestuurder: Gesondheidsprogramme vir die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA).
#WomensHealth #CervicalCancer #LowerCancerRisk #WomensMonth
Suid-Afrika se Vrouemaand vier vanjaar 30 jaar van demokrasie. “Goeie vordering is gemaak in terme van geslagsgelykheid, ekonomiese geleenthede en die bemagtiging van vroue,” sê Govender. “Baie vroue verwaarloos egter steeds hulle gesondheid. Dis dikwels ’n geval van te min of geen tyd om vir mediese ondersoeke te gaan en so word simptome wat pla geïgnoreer. Daar is ook vroue wat nie van kanker bewus is nie en nie weet hoe om simptome te herken nie.”
’n Tekort aan kennis rakende vrouegesondheid en kanker kan vroue verhoed om tydig van die regte gesondheidsorgdienste gebruik te maak of om openlik oor hulle simptome te praat. Dit vertraag die diagnose en behandeling van kanker en lei tot erger resultate. Govender sê dat KANSA voortdurend bewusmaking skep oor kanker en vroeë opsporing deur middel van opvoeding en siftingstoetse. “Tydens Vrouemaand, fokus ons spesifiek op servikskanker, wat voorkombaar en behandelbaar is, indien dit vroeg opgespoor en aangespreek word.”
Servikskanker is een van die top drie kankers wat vroue in Suid-Afrika affekteer. Naas borskanker, dui die 2022 Suid-Afrikaanse Nasionale Kankerregister se statistieke aan dat 7,499 nuwe gevalle van servikskanker histologies gediagnoseer was. Meeste vroue wat gediagnoseer was is tussen die ouderdomme van 40-49.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) word daar geprojekteer dat die jaarlikse aantal nuwe gevalle van servikskanker regoor die wêreld gaan toeneem van 570,000 tot 700,000 tussen 2018 en 2030; en die jaarlikse aantal sterftes as gevolg van servikskanker word voorspel om toe te neem van 311,000 tot 400,000 (Wêreldgesondheidsorganisasie, 2020). Meer as 85% van diegene wat geaffekteer word is jong, onderopgevoede vroue wat in die wêreld se armste lande woon. Ons kan ’n soortgelyke tendens in Suid-Afrika verwag, tensy ons meer mense kan oorreed om die inenting vir die menslike papilloomvirus (MPV) te kry.
KANSA se Vrouegesondheid-bewusmakingsveldtog is in ooreenstemming met Suid-Afrikaanse regeringsinisiatiewe, asook die WGO se 2020 globale strategie om servikskanker te elimineer. Die WGO se strategie beoog dat 90% van meisies ten volle teen MPV ingeënt is teen 15-jarige ouderdom; dat 70% van vroue ’n hoë prestasie siftingstoets ondergaan het (dus, papsmere of MPV-DNS toetse) teen 35-jarige ouderdom en weer wanneer hulle 45 is; en dat 90% van vroue met servikssiektes behandeling ontvang. KANSA beoog om hierdie strategie te ondersteun deur bewusmaking te skep oor die tekens en simptome van servikskanker, vroeë opsporing deur middel van gereelde siftingstoetse te beklemtoon asook deur vroue op te voed dat dit belangrik is om voorkanker letsels te laat behandel om effektiewe behandelingsresultate te verseker.
KANSA-ambassadeur en Mevrou Suid-Afrika-2023 finalis Roulene Bonthuys is ’n servikskanker-oorwinnaar. Sy sê, “So baie vroue is nie bewus van hierdie kanker voordat dit te laat is nie. Moet asseblief nie tot volgende maand of volgende jaar wag om jou ginekoloog te besoek nie en maak seker om so veel as moontlik oor servikskanker uit te vind en hoe om dit te voorkom.”
Byna alle tipes servikskanker word deur die menslike papilloomvirus (MPV) veroorsaak. MPV is ’n algemene virus wat hoofsaaklik deur vel-tot-vel kontak van die laer geslagskanaal tydens seksuele kontak versprei word. ’n Ander risikofaktor is rook. Daar is verskillende tipes MPV. Sommige lei tot servikskanker, ander veroorsaak genitale vratte, en ander veroorsaak geen probleme nie.
Simptome kan abnormale vaginale bloeding tussen maandstonde of na menopouse insluit, menstruasie wat swaarder word en langer as gewoonlik duur, vaginale bloeding of pyn tydens of na seksuele omgang, en abnormale vaginale afskeiding. Servikskanker toon egter nie altyd simptome wat maklik opgespoor kan word nie; daarom is gereelde siftingstoetse so belangrik.
“Meeste mans en vroue word aan MPV blootgestel, en by meeste sal die infeksie opklaar. In vroue met ’n swak immuunstelsel is daar ’n moontlikheid dat die virus nie sal opklaar nie, en aanhoudende infeksie kan in normale selle integreer en kankerselle word. MIV-pasiënte en diabete, asook oorplantingspasiënte wat immuunonderdrukkers gebruik, beloop byvoorbeeld die risiko dat die infeksie nie sal opklaar nie,” se dokter Tracey Adams, Senior Spesialis in die Verloskunde en Ginekologie-afdeling by Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad, en ’n Ginekologiese Onkologie Subspesialis-konsultant.
Die MPV-inenting wat meisies op negejarige ouderdom toegedien kan word asook Papsmere, is maniere om die risiko van servikskanker te verlaag. Die Papsmeer-toetse soek vir voorkankers en selveranderinge op die serviks wat dalk servikskanker kan word indien dit nie reg behandel word nie. KANSA bied Papsmere by meeste KANSA Sorgsentrums en gemeenskaps-klinieke regoor Suid-Afrika aan teen bekostigbare pryse. Dit sluit ‘n kliniese borskanker-ondersoek en die laboratoriumfooie in.
Die Nasionale Gesondheidsraad van die Departement van Gesondheid het in Oktober 2023 besluit dat Suid-Afrika moet oorgaan na MPV-toetse as die hoofmetode van servikale siftingstoetse. Die ouderdom vir ’n roetine-siftingstoets begin op 30 vir vroue wat MIV-negatief is (siftingstoetse moet aan alle vroue van 30 jaar en ouer aangebied word indien hulle nog nie getoets was nie). Indien die resultaat negatief is, word roetine-siftingstoetse elke 10 jaar aangebied. Indien drie roetine-siftingstoetse negatief is en die vrou die ouderdom van 50 bereik het, is geen verdere siftingstoetse nodig nie.
Vir vrou wat met MIV saamlewe, moet siftingstoetse op 25-jarige ouderdom begin (siftingstoetse moet aan alle vroue 25 jaar en ouer wat met MIV saamlewe aangebied word indien hulle nog nie getoets was nie). Indien die resultaat negatief is, word roetine-siftingstoetse elke drie tot vyf jaar aangebied. Indien drie roetine-siftingstoetse negatief is en die vrou die ouderdom van 50 bereik het, is geen verdere siftingstoetse nodig nie.
As deel van Vrouemaand, bied KANSA kanker siftingstoetse by sommige van hulle Sorgsentrums aan. Sien https://cansa.org.za/screening-services/
Omvattende inligting oor servikskanker en alle ander tipes kanker wat vroue affekteer is hier beskikbaar https://cansa.org.za/womens-health/