Verminder die Risiko van Servikale Kanker d.m.v. Inenting

Maphuti Marogoa servikale kanker Oorwinnaar…
Servikale kanker is een van die vernaamste oorsake in die dood van vroue in ontwikkelende lande.
Die risiko vir vroue om servikale kanker te ontwikkel in Suid-Afrika, is een uit 42 volgens die Nasionale Kankerregister- statistiek van 2009. Lees meer oor servikale kanker hier…
Die primêre oorsaak van servikale kanker is die Menslike Papilloomvirus (MPV) – sien onlangste feiteblad hier – wat oorgedra word deur velkontak. Dis ‘n baie algemene virus wat die meeste mense op een of ander stadium in hul lewens infekteer.
Daar is baie verskillende tipes MPV en ‘n paar van die virustipes wat die selle infekteer, kan tot kanker lei. Omtrent 40 MPV-tipes word seksueel oorgedra deur middel van genitale kontak, terwyl twee tipes (16 + 18) in Suid-Afrika gesien word as hoër-risikotipes. Sien Infografiek servikale kanker hier…
Nasionale DvG MPV-Inentingsprogram in Skole
Aangesien aanhoudende infeksie met MPV tot servikale kanker kan lei, moedig KANSA alle vroue in die ouderdomsgroep van 9-26 jaar aan (op voorwaarde dat hulle nie seksueel aktief is nie) om die MPV-entstof te kry.
Die Suid-Afrikaanse regering is tans besig om aan alle graad 4-dogters (9- tot 10-jarige ouderdom) die geleentheid te gee om deur middel van die Nasionale Departement van Gesondheid (DvG) se MPV-Inentingsprogram aan alle openbare skole, ook die voormalige Model C-skole, MPV-inenting te ontvang. Die DvG bied ook ‘n implementeringsgids aan die skole wat opvoeders die nodige inligting oor die inenting en die vermindering van kankerrisiko gee. Lees DvG ‘Vrae Wat Dikwels Gevra Word Rondom MPV’…
“KANSA is dankbaar teenoor die DvG vir die aanbieding van die gratis MPV-inentings aan Suid-Afrikaanse dogters. As die voorloper in kankerbeheer in Suid-Afrika, is KANSA trots om saam met die regeringop te tree in die opvoeding van alle jong vroue oor die gevare van MPV en servikale kanker. Dit bied aan die dogters/dames ‘n geleentheid om hul gesondheid in hul eie hande te neem, aangesien servikale kanker doeltreffend behandel kan word as dit vroeg opgespoor en gediagnoseer is,” sê KANSA se Waarnemende Hoof Uitvoerende Beampte, Elize Joubert.
Papsmeer Red Maphuti Marogoa se Lewe
Toe Maphuti Marogoa (49) in 2008 vir haar gereelde ondersoek en Papsmeer gegaan het, het haar lewe vir altyd verander. “Nadat ek my resultate ontvang het, het die verpleegsuster my ingelig dat die resultate daarop dui dat ek ‘n vroeë stadium van servikale kanker het. Ek het skok, ontkenning en woede ervaar, want ek kon nie glo dat so iets my sou tref nie. Ek het vir maande met kanker geleef totdat ek in 2009 vir ‘n operasie gegaan het. Gedurende hierdie tyd het ‘n vriend my aan KANSA voorgestel en na ‘n paar weke is ek uitgenooi na die Relay For Life deurnag geleentheid. Die ondersteuning wat ek vandaar af van KANSA ontvang het, was oorweldigend en ek voel so tuis.”
Maphuti gaan voort deur alle vroue aan te moedig om vir gereelde ondersoeke te gaan, ‘n gesonde en gebalanseerde lewenstyl te handhaaf en om die lewe te geniet. Sy sluit af: “Diegene wat nog steeds die stryd teen kanker veg, moet onthou dat dit altyd die donkerste onmiddellik voor dagbreek is.”
KANSA Bied Siftingstoetse vir Kanker
KANSA het nege Mobiele Gesondheidsklinieke wat na afgeleë gebiede in Suid-Afrika reis. So bereik hulle ook gemeenskappe wat andersins nie toegang tot sifting het nie. Hulle bied kliniese borsondersoeke, Papsmeertoetse vir servikale kanker, sowel as ander gesondheidstoetse soos vir cholesterol, bloeddruk asook prostaattoetse (PSA) vir mans om prostaatabnormaliteite op te spoor. Sifting is ook beskikbaar by ons ses KANSA Sorgklinieke en 25 KANSA Sorgsentra landswyd.
Mev Joubert: “Ons moedig alle meisies aan om die MPV-entstof te kry. Gesels met jou plaaslike geneesheer om uit te vind waar hierdie inenting beskikbaar is. Ons moedig alle vroue ook aan om vir gereelde Papsmere (siftingstoets vir die vroeë opsporing van servikale kanker) te gaan, dit wil sê ten minste elke drie jaar vanaf die ouderdom van 25.”
Rus in Vrede
15 Julie 2015: KANSA Bloemfontein skryf, “We are saddened today by the loss of Maputhi Marogoa. Maphuthi was a valuble member of our CANSA Regional council , a dedicated Volunteer, friend and CANSA advocate. Her passion, dedication and support inspired us all. Our condolences go out to her loved ones. Maputhi , you will be missed”.
(Maphuti passed away due to lung cancer).