Suid-Afrikaners Ondervind ’n Hoër Risiko van Velkanker
10 Mei 2024 – Die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) sê alhoewel Meimaand die einde van somer aandui met winter wat vinnig nader kom, is dit ook Melanoom Bewusmakingsmaand, wat ons herinner om regdeur die jaar sonslim te wees, ongeag die weersomstandighede.
#SunSmart #CANSASunSmart #SkinCancer #LowerCancerRisk #CANSASmartChoice
“Suid-Afrika kan die velkanker kapitaal van die wêreld word,” se algemene mediese praktisyn Dr. Donny Fick, wie in April vanjaar aan die Two Oceans-halfmarathon deelgeneem het om bewusmaking vir velkanker te skep.
“Ek het hierdie geleentheid gebruik om die kollig op velkanker te plaas omdat Suid-Afrika ’n groot aantal hardlopers het, met al hoe meer mense wat sedert COVID-19 aan die sport deelneem.”
Fick sê nie dat daar ’n verband tussen meer hardlopers en ’n hoër voorkoms van velkanker is nie. Hy sê wel dat hardlopers op die regte skoene en voeding fokus, maar nie noodwendig om hulself teen die son te beskerm nie. “Te min hardlopers gebruik sonbrandroom en baie min dra gepaste kopbedekking. Deur middel van die Two Oceans marathon wou ek nie net hardlopers inlig nie, maar ook die res van die bevolking oor die skadelike effek van die son.”
Die syfers wys dat Suid-Afrikaners ’n hoër risiko van velkanker ondervind. Melanoom, die gevaarlikste tipe velkanker, is een van die top vyf kankers in die land onder mans en vroue (Nasionale Kankerregister, 2022). Die Mei-melanoom bewusmakingsveldtog fokus daarop om die kankerrisiko te verlaag asook op vroeë opsporing wat op die meeste tipes kanker van toepassing is. Dit beteken dat mense leefstylkeuses moet aanpas indien nodig, om die kankerrisiko te verlaag en ook waarskuwingstekens dop te hou wat deur ’n mediese persoon ondersoek moet word.
Melanoom ontwikkel in die selle wat melanien vervaardig (melanosiete), die pigment wat aan die vel sy kleur gee. Melanoom kan op enige velkleur en enige plek op die lyf ontwikkel, insluitend die kop, nek, oë, onder die vingernaels, die genitalieë en die voetsole of handpalms. Dit kan dieselfde kleur as ’n moesie hê, kan kleurloos of selfs effens rooi wees. Alhoewel melanoom meestal in areas ontwikkel wat aan die son blootgestel was, soos die rug, bene, arms en gesig, kan dit ook in areas voorkom wat nie baie aan die son blootgestel word nie. Dit kan ook binne in die liggaam voorkom.
Alle etniese groepe en rasse is vatbaar vir melanoom; die tipiese pasiënt het egter ’n ligte gelaatskleur en is geneig om in die son te brand, selfs na slegs ’n kort ruk van sonligblootstelling. Alhoewel daar geen oortuigende bewyse is dat blootstelling aan sonlig melanoom ontwikkel nie, word letsels meestal op areas gevind wat aan die son blootgestel was. Ander risikofaktore sluit in ’n melanoom wat voorheen in die pasiënt sigbaar was of in ’n familielid, soos ’n ouer of sibbe.
Lorraine Govender, KANSA se Nasionale Bestuurder: Gesondheidsprogramme sê, “Ons raai jou aan om jou vlekke op jou vel na te gaan. Hierdie kanker is meestal sigbaar, so jy kan dit maklik op jou vel opspoor.”
KANSA raai ook maatskappye met werknemers wat buite in die son werk aan, soos diegene in die landbou- of boubedryf, om seker te maak dat hulle genoeg beskerming teen die son het. Kyk uit vir sonbrandroom, klere, hoede en somer-bykomstighede met KANSA se Seël van Erkenning daarop.
“Jy moet jouself ook beskerm wanneer jy bestuur,” verduidelik sy. “Sekere UV-sonstrale dring deur karvensters.” Sy voeg by dat dit ook wolke deurdring, so dis belangrik om ook sonbrandroom op bewolkte dae te gebruik.
Fick raai mense aan om so gou moontlik te begin om sonbrandroom te gebruik. “Deur jouself teen die son te beskerm, vertraag jy ook die verouderingsproses,” sê hy. Govender stem saam. “Sonbrandroom moet deel uitmaak van enige skoonheidsproses vir beide mans en vroue. Gebruik ’n breë-spektrum sonbrandroom met sonbeskermingsfaktor (SBF) van 20 of hoër, volgens veltipe.”
“Mans vergeet dikwels om sonbrandroom te gebruik,” sê Fick. Deel van sy bewusmakingsveldtog is om te beklemtoon dat mans ook beskerming teen die son nodig het. “Doen dit net,” sê hy. “Jy sal later vir my dankie sê.”
In Suid-Afrika, blyk dit dat die risiko vir melanoom besig om te verhoog in mense jonger as 40 jaar, veral onder vroue.
Tekens en Simptome van Melanoom
Om die eienskappe van ongewone moesies te identifiseer wat melanoom of ander velkankers kan aandui, dink aan die letters A, B, C, D en E:
- Asimmetrie: Een helfte is anders as die ander helfte wanneer jy ’n lyn deur die moesie trek.
- Buitelyn afwykings: Die kante is gekartel of gekeep.
- Chromatiek: Kleurvariasies waar verskillende skakerings en ongewone kleure kan verskyn.
- Deursnit: Moesies wat wyer as ’n uitveër aan die punt van ‘n potlood is.
- Evoleer: Dit sluit in enige verandering in grootte, vorm, kleur, hoogte, of nuwe simptome soos bloei of jeuk.
Kankeragtige (kwaadaardige) moesies verskil in voorkoms. Sommige toon die veranderinge soos hierbo aangedui, en ander het net een of twee ongewone eienskappe. Die eerste teken van ’n melanoom is gewoonlik ’n nuwe vlek of ’n bestaande moesie of sproet wat van voorkoms verander. Dit kan groter word of op ’n manier verder ontwikkel; die rante kan ongelyk in plaas van glad voorkom; daar kan verskeie kleure wees soos bruin, swart, blou, rooi, wit of liggrys en moesies kan jeuk of begin bloei.
Vir meer inligting oor hoe om die kankerrisiko te verlaag, besoek cansa.org.za vir feiteblaaie oor melanoom, en vir maniere om sonslim te wees.
(Vir meer inligting, kontak asseblief vir Lucy Balona, Hoof: Bemarking en Kommunikasie by KANSA, per e-pos lbalona@cansa.org.za. Skakel 011 616 7662 of op haar selfoon 082 459 5230.)
Navrae KANSA
0800 22 6622 Tolvry
072 197 9305 Engels en Afrikaans (slegs teks)
071 867 3530 isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Setswana and Sepe (slegs teks)
KANSA Versorgsentrums
Maak kontak met KANSA op sosiale media platforms: