Elimineer Servikskanker deur Vroeë Opsporing
KANSA herinner vroue aan die belangrike rol wat gereelde Papsmere speel in die opsporing en uitskakel van servikskanker. Bykans 11 000 vroue in Suid-Afrika word jaarliks met servikskanker gediagnoseer. Dit maak dit die tweede mees algemene kanker met die hoogste sterftesyfer onder vroue.
#CANSACervicalAwareness #EliminateCervicalCancer
Servikskanker ontwikkel wanneer die serviks, die lae, smal gedeelte van die baarmoeder met hoë-risiko menspapilloomvirus (HPV) besmet word – HPV 16 en 18 word meestal opgespoor.
Lorraine Govender, KANSA se Nasionale Bestuurder: Gesondheidsbevordering, verduidelik dat die menspapilloomvirus op die vel lewe en deur vel-tot-vel aanraking of seksuele kontak oorgedra kan word. Wanneer die serviks besmet is, kan voorkanker letsels ontwikkel. Indien dit nie behandel word nie, kan dit in indringende kankers ontaard.
KANSA moedig alle vroue wat seksueel aktief is aan om vir gereelde Papsmere te gaan – dis ’n pynlose prosedure waar selle van die serviks geskraap word en onder ’n mikroskoop bestudeer word – dit kan help om enige abnormaliteit op te spoor wat deur menspapilloomvirus veroorsaak word en tot kanker kan lei.
“Dit is ook belangrik dat vroue nie wegbly indien hulle abnormale resultate kry nie. Die gaping tussen siftingstoetse en behandeling in Suid-Afrika is baie groot. Omtrent 50% van vroue met voorkanker tekens word vir opvolgafsprake verwys, byvoorbeeld ’n kolposkopie of biopsie. Servikskanker is een van die mees voorkombare kankers en is hoogs behandelbaar wanneer dit vroeg opgespoor word en behandeling so gou as moontlik kan begin,” sê Govender.
Meeste vroue wat deesdae met servikskanker gediagnoseer word het ongelukkig nie vir gereelde Papsmere gegaan nie of nie opvolgafsprake vir abnormale resultate gemaak nie. Mites, wanbegrip en verkeerde inligting rakende kanker kan groot skade aanrig. Dit kan tot stigmas lei en kan die besluite wat vroue neem negatief beïnvloed wanneer dit kom by voorkoming en die kry van hulp en behandeling. Faktore soos ’n tekort aan finansies, vervoer en kindersorg verhoed ook vroue van toegang tot gesondheidsorgfasiliteite, siftingstoetse of om verdere mediese hulp te kry.
As deel van die dienste vir siftingstoetse wat KANSA aanbied, is Papsmere by meeste KANSA Sorgsentrums regoor Suid-Afrika beskikbaar teen ’n bekostigbare prys van R380 – dit sluit in ’n kliniese borstoets asook die laboratoriumkostes. Indien enige abnormaliteit opgespoor word, kan KANSA help met ’n verwysing na ’n mediese praktisyn in die publieke gesondheidsorg sektor.
KANSA in KwaZulu-Natal tesame met Netcare Umhlanga-hospitaal en ’n span dokters gelei deur ginekoloog-onkoloog dr. K Govender beplan om op Saterdag 20 Augustus Papsmere op 250 vroue te doen.
Volgens die Nasionale Departement van Gesondheid se Beleid vir die Voorkoming en Beheer van Servikskanker kan vroue drie gratis Papsmere in hulle leeftyd by publieke gesondheidsklinieke kry, op die ouderdomme van 30, 40 en 50 (nie-simptomaties). Indien vroue abnormale simptome ervaar, kan hulle by plaaslike staatsklinieke vir ’n Papsmeer vra. Vroue wat MIV-positief is, kan ’n Papsmeer by diagnose kry, en daarna elke drie jaar indien die resultaat vir servikskanker negatief is (jaarliks, indien die resultaat positief is).
KANSA ondersteun ook die Departement van Gesondheid se menspapilloomvirus (HPV) inentingsprogram om die risiko van servikskanker te verlaag. Alle vroue tussen die ouderdomme van 9 – 26 jaar kan ingeënt word (as hulle nie seksueel aktief is nie) en vroue wat reeds die inenting ontvang het moet voortaan vir servikskanker getoets word.
Alhoewel servikskanker hoofsaaklik deur menspapilloomvirus (HPV) veroorsaak word, is daar ander risiko’s. Dit sluit in as mense oorgewig of onaktief is, alkohol inneem en ’n slegte dieet volg, rook en aan chemikalieë blootgestel word. Vroue wat MIV-positief is beloop ook ’n hoër risiko om servikskanker te kry. Verder raai KANSA mense aan om hul seksuele debuut uit te stel, minder seksuele maats te hê, en kondome te gebruik. Mediese manlike besnyding verminder die kry en oordra van menslike immuniteitsgebrekvirus (MIV) en beskerm mans teen menspapilloomvirus (HPV). Dit verminder dus die risiko vir infeksie van HPV onder vroue.
Enigeen wat met servikskanker gediagnoseer word kan hul plaaslike KANSA Sorgsentrum kontak vir toegang tot KANSA se sorg- en ondersteuningsprogramme, soos die huur van mediese toerusting, toegang tot pruike, berading, teleberading, ondersteuningsgroepe, aanlyn ondersteuningsgroepe en hulpbronne, asook KANSA Sorgtuistes wat akkommodasie bied aan pasiënte wat behandeling ver van die huis af kry. Ondersteuning en inligting is ook via die KANSA hulplyn beskikbaar op 0800 22 6622 of per e-pos info@cansa.org.za
Vir meer inligting, kontak asseblief vir Lucy Balona, Hoof: Bemarking en Kommunikasie per e-pos lbalona@cansa.org.za of skakel 082 459 5230).
Navrae KANSA
0800 22 6622 Tolvry
072 197 9305 Engels en Afrikaans (slegs teks)
071 867 3530 isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Setswana and Sepe (slegs teks)
KANSA Versorgsentrums
Maak kontak met KANSA op sosiale media platforms: