Die Waarheid oor Kanker op Wêreld Kankerdag 4 Februarie 2014
23 Januarie 2014 – Dinsdag 4 Februarie is Wêreld Kankerdag en KANSA gebruik hierdie dag van bewustheid om die algemene mites oor kanker na vore te bring en dit aan te spreek.
Elke jaar hoor 14 miljoen mense hulle het kanker en in SA word 1 uit 4 mense se lewe deur kanker geraak. Dit is die feite waaroor ons almal moet praat om protes aan te teken teen negatiewe oortuigings, standpunte, en gedragspatrone wat mites toelaat om te bly voortbestaan, vrees en stigma veroorsaak, mense verhoed om vroeë opsporingstoetse te laat doen en behandeling te ontvang en om inenting van die hand te wys.
Kanker ken geen vooroordele nie en raak mense van enige ouderdom, ras, geloof, geslag en ekonomiese status. Die magtigste wapen wanneer die mens met kanker gekonfronteer word, is opvoeding en kennis.
KANSA fokus op vier algemene mites oor kanker en verskaf feite oor elkeen:
- Dis nie vir ons nodig om oor kanker te praat nie.
- Daar bestaan geen tekens of simptome wat op kanker dui nie.
- Daar is niks wat ek oor kanker kan doen nie.
- Ek beskik nie oor die reg tot kankersorg nie.
Lees KANSA se PowerPoint aanbieding – Wêreld Kanker Dag 2014:
Mite 1: Dit is nie vir ons nodig om oor kanker te praat nie
Waarheid: Kanker kan ‘n moeilike onderwerp wees om aan te spreek – veral in sekere kulture en instellings, maar die openlike hantering van die siekte kan die uitkoms van ‘n individu, gemeenskap en beleidvlak verbeter. Vir die meeste mense is die diagnose van kanker ‘n gebeurtenis wat die lewe van die persoon totaal verander en oor die algemeen gevoelens van skok, vrees, woede, hartseer, eensaamheid en angs veroorsaak. Wanneer iemand kanker het, kan dit die persoon met hierdie emosies help deur met geliefdes, gesinslede, vriende en kollegas daaroor te praat. Belegging in die voorkoming en vroeë opsporing van kanker is goedkoper en meer doeltreffend as die hantering van die gevolge van die siekte. Lees meer…
KANSA het verskeie aktiewe ondersteuningsgroepe (kry besonderhede hieroor by jou plaaslike KANSA Sorgsentrum). Die ondersteuningsgroepe help die persoon met kanker om in aanraking te kom met pasiënte, kankeroorwinnaars en hul geliefdes – mense wat alreeds die pad geloop het. Kommunikasie en ondersteuning bied insig, morele ondersteuning, begrip, hoop en inspirasie. Maak kontak met ander kankeroorwinnaars (enigiemand wie die woorde “jy het kanker” gehoor het) op ons ‘Champions of Hope’ Facebook Groep.
Mite 2: Daar bestaan nie tekens of simptome wat op kanker dui nie
Waarheid: Vir baie kankers is daar waarskuwingstekens en simptome, maar die waarde van vroeë opsporing is ongetwyfeld van die allergrootste belang. “Dit is uiters belangrik om kennis te dra van die algemene tekens en simptome van kanker. Hoewel sommige simptome veroorsaak kan word deur ander gesondheidsprobleme, behoort jy ‘n professionele gesondheidswerker sonder versuim te raadpleeg as die simptome voortduur,” voeg Janse van Rensburg by.
Vergewis jouself van die waarskuwingstekens en simptome van kanker by volwassenes en kinders. Lees meer of skakel 0800 22 66 22 tolvry.
Mite 3: Daar is niks wat ek aan kanker kan doen nie
Waarheid: Kanker kan voorkom en meer effektief behandel word as dit vroeg gediagnoseer word. Dit is noodsaaklik om bewus te wees van die risiko faktore en maniere oor hoe om die risiko vir kanker te verminder. Die beginpunt is om slim keuses oor jou lewenstyl te maak.
Volg ‘n gebalanseerde lewenstyl tuis en in die werksplek en beskerm en bevorder so jou gesondheid. (link)
- Volg ‘n gesonde dieët – gesonde keuses sal help om jou risiko vir kanker te verlaag. Eet genoeg vars groente en vrugte in seisoen; beperk jou inname van vet; vermy en beperk alkohol; verminder jou sout- en suikerinname en sluit bronne van omega-3 in jou dieet.
- Handhaaf ‘n gesonde en matige liggaamsgewig en wees aktief om jou risiko vir verskeie soorte kanker te verlaag.
- Beskerm jou vel – velkanker is die mees algemene kanker en word veroorsaak deur die skadelike UV strale van die son.
- Maak Slim Keuses (Smart Choices) – die KANSA Seël van Erkenning op produkte moedig almal aan om etikette op produkte te lees en om ingeligte besluite te maak (link)
- Vermy gevaarlike gedragspatrone wat kan lei tot infeksies wat op sy beurt jou risiko vir kanker kan verhoog.
- Moenie tabakprodukte gebruik nie – ‘n algemene mite is dat die rook van ‘n waterpyp (hubbly bubbly) minder skadelik is as die rook van sigarette. Die waarheid is dat dit meer skadelik is. (link)
- Laat jouself inent teen virusse wat kanker veroorsaak – Hepatitis B veroorsaak meestal primêre kanker van die lewer en die Menslike Papilloom-virus veroorsaak meestal servikale kanker. Die voorkoms van aansteeklike kanker (hoofsaaklik veroorsaak deur verskillende virusse) is so hoog as 20% in Afrika.
- Gaan gereeld vir mediese toetse vir kanker en doen selfondersoeke om jou kans te verhoog om kanker vroegtydig op te spoor. Vroeë opsporing verhoog jou kans om kanker suksesvol te behandel. Vra ‘n dokter oor die beste siftingstoetse wat beskikbaar is. KANSA bied ‘n verskeidenheid siftingstoetse aan by ons KANSA Sorgsentrums & Mobiele Gesondheideenhede landswyd. Lees meer oor selfondersoeke vir mans en vrouens.
Mite 4: Ek het nie die reg tot kankersorg nie
Waarheid: Die Grondwet van Suid-Afrika (Handves van Menseregte) waarborg dat alle mense oor die reg beskik om bewese en doeltreffende behandeling vir kanker te ontvang en om dienste op gelyke terme sonder lyding en swaarkry te bekom. Die reg tot gesondheid en gesondheidsorg is egter aantasbaar (nie gewaarborg nie). Dit beteken dat dit afhanklik is van die vraag of die Staat sodanige terapie kan bekostig.
Tersiêre hospitale in Suid-Afrika beskik oor gespesialiseerde onkologie-eenhede en die behandeling van kanker is meestal ook beskikbaar by sekondêre hospitale. Die Staat het die inenting teen Hepatitis B en onlangs ook die HPV entstof ingesluit as deel van ‘n Uitgebreide Program van Immunisering. In die privaatsektor bied die meeste Mediese Fonds organisasies gespesialiseerde onkologie sorgprogramme aan lede terwyl private hospitale onkologie dienste kan verskaf. Lees meer…
Janse van Rensburg sê “Ons KANSA Sorgsentrums landwyd bied ‘n omvattende diens aan mense wat deur kanker geraak word. Dit sluit die volgende in: programme oor voorkoming, versorging en ondersteuning van kankeroorwinnaars, geliefdes en versorgers.” Vind meer hieroor uit by (insert link)
Vergewis jouself van die waarheid oor kanker
Daar is baie mites en halwe waarhede oor kanker wat geredelik beskikbaar is op die Internet en elders – wat moet jy as ‘n lid van die publiek glo? Lees meer oor die mites en feite oor kanker op KANSA se webwerf of kontak KANSA tolvry by 0800 22 66 22. Jy kan ook ‘n epos stuur aan info@cansa.org.za as jy enige verdere navrae het of as jy meer informasie vereis wat op bewyse gebaseer is oor hierdie of ander onderwerpe.
Omtrent KANSA
Navrae KANSA
Sien meer inligting omtrent kanker mites en feite… of kontak KANSA tolvry op 0800 22 66 22, of per epos: info@cansa.org.za indien jy enige vrae het.