KANSA Fokus op die Nood vir Ondersteuning van Tiener Kankeroorwinnaars
16 Augustus 2018 – As deel van Kinderkanker bewusmaking maand, laat die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) die kollig val op die bewusmaking van simptome van kinder- en tienerkanker. Dit sal help om ouers/voogde van kinders of tieners wat met kanker gediagnoseer is, bewus te maak van verskillende opsies van ondersteuning wat tot hul beskikking is.
In die meeste kankers wat by kinders en tieners voorkom, bestaan daar geen bekende risikofaktore nie en daarom word daar gefokus op bewusmaking van die tekens en simptome van kinderkanker om te help dat kanker so vroeg as moontlik by kinders en tieners gediagnoseer kan word. #EarlyDetection
KANSA konsentreer in besonder op die tiener kankeroorwinnaars (pasiënte). Gebaseer op die mees onlangse beskikbare statistieke is Hodgkin en Non-Hodgkin Limfoom die mees algemene kanker wat voorkom by tieners (10 to 19 jaar) in Suid-Afrika. Dit verteenwoordig byna ‘n kwart van alle kankers onder tieners, met ‘n algehele oorlewingsyfer van 79% vir 5 jaar.
Statistieke van gevalle van kanker by tieners is tans nie verteenwoordigend in die Nasionale Kankerregister en die Suid-Afrikaanse Kinder Kankerregister nie, so die werklike getal tieners wat met kanker gediagnoseer word, is onbekend. Die getal is egter beslis groter as wat die huidige statistieke aantoon. Sien infografieke
Faktore wat verband hou met ‘n laer oorlewingsyfer sluit onder andere die volgende in: MIV-infeksie en gevorderde fases van die siekte as gevolg van die gebrek aan vroeë opsporing. In Suid-Afrika het die gebrek aan spesiale hospitaalsale vir tieners met kanker ook ‘n impak op die versorging van onkologie pasiënte gedurende hul tienerjare.
Dr Jennifer Geel, ‘n navorser deur KANSA befonds, sê: “‘n Diagnose van kanker kan vernietigend vir enigeen wees, maar tieners bevind hulle ook in ‘n fase van hul lewe waarin hulle belangrike lewensveranderinge moet trotseer. Tieners moet leer om puberteit, hoërskool, naskoolse opleiding, intrede tot die werksplek, nuwe verhoudings met mense buite die gesinsverband en die aanvangs van hul lewe as volwassenes in die samelewing te hanteer. ‘n Diagnose van kanker kan al hierdie faktore en belewenisse tot ‘n halt bring. Die tiener sukkel om alles wat in hul lewe wat so vinnig verander, te hanteer en hulle doen dit terwyl hul lewens boonop deur ‘n siekte soos kanker bedreig word. Dit is bitter moeilik. Daar bestaan hoë vlakke van depressie onder tieners, maar dit word selde gediagnoseer.”
Sommige tiener kankeroorwinnaars deel hul ervaringe en die uitdagings om saam met kanker te lewe: “Ek wens almal om my wil net ophou praat oor my siekte asof dit glad nie eens bestaan nie en ek wens dat hulle eerder bereid sal wees om my te help om weer terug skool toe te kan gaan,” sê ‘n 15 jarige tiener van Msogwaba, Mpumalanga, wat gediagnoseer is met Plasmablastiese Limfoom.
‘n Sewentienjarige tiener van KwaZulu-Natal wat met Ewings Sarkoom gediagnoseer is, sê: “Ek wil graag hê my vriende moet my sien en hanteer soos enige ander normale tiener en nie ‘n gestremde persoon nie. Ek wens hulle wil besef dat die diagnose van kanker my emosies geweldig beïnvloed en aangetas het. Ek is ‘n normale tiener met kanker en ek is nie as gevolg daarvan gestremd nie. Die grootste guns wat hulle my kan bewys is om in kontak met my te bly.”
Nog ‘n 17-jarige met Ewings Sarkoom, afkomstig van Mosselbaai, sê: “Tieners met kanker voel dikwels geïsoleerd veral as hulle in die hospitaal is en vir lang rukke op ‘n slag nie skool toe kan gaan nie. Besoek hierdie pasiënte so dikwels as moontlik. Baklei teen die drang om hulle te ignoreer omdat jy ongemaklik voel oor hulle siekte. Net die feit dat jy daar is om te wys dat jy tieners met kanker ondersteun, beteken so baie vir hulle. Bly in kontak met hulle – stuur ‘n kaartjie, ‘n boodskap per foon of ‘n epos.”
Geel voeg by: “Hodgkin Limfoom is ‘n kanker wat met groot sukses behandel kan word. Dit is ‘n tipe kanker wat gereeld by adolessente en jong volwassenes gediagnoseer word. Die oorlewingsyfer vir MIV positiewe pasiënte het egter gedaal tot ongeveer 45%. Korrekte voeding speel ‘n belangrike rol in die oorlewing (al dan nie) van ‘n jong kankerpasiënt. Pasiënte wat vroeg genoeg gediagnoseer word, staan ‘n baie beter kans om kanker te oorleef.”
Wees Bewus van die Tekens
Om te verseker dat pasiënte vroeg genoeg gediagnoseer word om baat te vind by behandeling, is dit belangrik om bewus te wees van die tekens en simptome van die siekte, wat wyd verspreid kan voorkom afhangende van waar die Limfoom in die liggaam gevind is. Wees op die uitkyk vir vergrote limfkliere (wat lyk en voel soos knoppe onder die vel), geswelde buik (maag), die gevoel van versadiging nadat slegs ‘n klein maaltyd of porsie kos geëet is, kortasem of hoes, koors, gewigsverlies, nagsweet, en moegheid of tamheid.
“Die beste kans om Hodgkin Limfoom te oorleef is om deel te wees van ‘n studie wat by pediatriese onkologie eenhede deur Suid-Afrika gedoen word. Enige dokter wat ‘n kankerpasiënt tot en met die ouderdom van 22 jaar behandel, word aangemoedig om my te kontak om betekenisvol te kan bydra tot die navorsing en studie oor hoe om die lewe van kinders, tieners en jong volwassenes wat in Suid-Afrika met Hodgkin Limfoom gediagnoseer is, te verbeter,” sê Geel. Kontak Dr Geel per epos: jennifer.geel@wits.ac.za
KANSA Kan Help
Die KANSA Tough Living with Cancer (TLC) ondersteuningsprogram vir kinders en tieners is ‘n omvattende en holistiese benadering wat die emosionele en sosiale welsyn van ouers (voogde), kinders/tieners en hul broers en susters insluit.
KANSA help om inligting rakende kanker met almal wat dit nodig het, te deel. KANSA bied ook die volgende aan: berading, ondersteuningsgroepe, help ten opsigte van die gebruik van prostesis, ‘ports’/‘broviac’s’, mediese toerusting, ondersteuningprogramme van die pasiënt in die hospitaal/saal, kos en basiese voorraadpakkies vir gesinne in nood asook verblyf vir ouers (voogde) naby aan sentrums waar pasiënte behandel word by TLC Tuistes (Polokwane, Pretoria and Durban).
Tieners is in die middel vasgevang: hulle is oud genoeg om beter te kan verstaan wat met hulle gebeur, maar terselfdertyd is hulle nog kinders en kry swaar oor hoe om hul huidige realiteit te hanteer. KANSA se TLC ondersteuningsdienste is van uiterste belang vir hierdie kinders en hul families, hulle moet weet hulle is nie alleen nie. Ons moedig die gemeenskap, familie en vriende van families met ‘n tiener of kind met kanker aan om ondersteunend te wees en om te gee. Hierdie pad is net so moeilik vir die ouers en broers en susters as vir die pasiënte, en hulle het jou omgee ook nodig.
KANSA TLC ondersteun ook die kind/ tiener wat ‘n ouer, broer of suster het wat met kanker gediagnoseer is. Sulke kinders en tieners word soms die primêre versorger van die kankerpasiënt. Ouers of voogde wat hulp en ondersteuning nodig het, word aangemoedig om hul naaste KANSA Sorgsentrum te kontak: Hulle kan ook aansluit by die KANSA TLC Kinderkanker Ondersteuningsgroep op Facebook waar hulle in aanraking kan kom met ander wat hulself in dieselfde posisie bevind. *
* Neem asseblief kennis dat dienste in verskillende provinsies.
(Vir meer inligting, kontak asseblief vir Anina Meiring, email: ameiring@cansa.org.za)
Navrae KANSA
0800 22 6622 Tolvry
072 197 9305 Engels en Afrikaans (slegs teks)
071 867 3530 isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Setswana and Sepe (slegs teks)
KANSA Versorgsentrums
Maak kontak met KANSA op sosiale media platforms: