The responsibility rests with patients to contact CANSA for assistance. Read more...

Hester Mans – Kies Lewe, my Pad na Genesing – Cancer Stories of Hope #CANSA90

‘n Bietjie agtergrond oor myself…

Ek is 49 jaar oud en het twee kinders, bly in Pretoria en werk by ‘n makelaar as ‘n versekeringskonsultant.

Ek het groot geword as enigste kind in ‘n baie streng, stabiele Christelike huishouding. My pa is oorlede toe ek 16 jaar oud was. My moeder was nog altyd my steunpilaar en baie betrokke in my lewe.

Ek het goed presteer in sport – atletiek was my passie.

In 2012, op 40-jarige ouderdom besluit ek om deel te neem aan ‘n fiksheidskompetisie. Ek was gesond. Ek het nooit die binnekant van ‘n hospitaal geken nie. Ek was top fiks, maar skielik baie moeg. Ek het massiewe hoofpyne en erge nagsweet begin kry. My huisdokter het begin om algemene bloedtoetse te doen. Alles het negatief getoets. Ek is getoets vir klierkoors, waarmee ek baie as kind gesukkel het. Dit het ook negatief getoets.

Ek kan my huisdokter se woorde so goed onthou: “Hes, ons mis iets!”

Twee weke later kry ek ‘n klein klipharde steentjie in my nek. ‘n Week daarna is daar skielik ‘n massiewe spul knoppe in my nek.

23 September 2013 verander my hele lewe. Ek word gediagnoseer met aggressiewe limfklier kanker (Hodgkins Lymphoma depleted). Mens hoor mos altyd: “LIFE BEGINS AT 40!” ‘n Verwagting wat toe in ‘n nagmerrie omvou het, maar ek het van die eerste dag gekies om te lewe!

Ek het gekies om God te vertrou met die pad wat Hy reeds vir my voorberei het. In Johannes 10:10 sê die woord Hy wil lewe en lewe in oorvloed vir ons hê. Ek moes dit glo en dit begin leef!

Ek kry vir ‘n periode van ses jaar aaneenlopend intense chemoterapie en bestraling. In 2014 kry ek my eerste beenmurg oorplanting (my eie stamselle). Die herstelperiode na ‘n beenmurgoorplanting is twee jaar. Ek het twee beenmurgoorplantings in nege maande gehad.

Met my eerste beenmurgoorplanting bevestig die onkoloog dat ek ten minste vier tot ses weke in isolasie gaan wees. Daarna moet ek met my werkgewer reël vir drie maande siekverlof. Twaalf dae na nie prosedure word ek ontslaan. Ek was ‘n week by die huis, toe begin ek weer halfdag werk.

Die onkoloog is verstom toe ek haar in die spreekkamer ontmoet met my opvolgondersoek en wil weet hoe ek ontslaan is! Ek moet dan nog in die hospitaal wees. Die oorplantingskliniek, wat sy gestig het, was toe al 10 jaar aan die gang en nog nooit tevore was iemand so vinnig ontslaan nie. Al wat ek kon sê, was: “Dokter, gebed het groot krag!”

In Julie 2015 kry ek my tweede beenmurgoorplanting. Die keer ontvang ek my seun se beenmurg. Hy was maar 15 jaar oud. Die riskio is baie groter, want jou liggaam kan die selle verwerp. Die isolasie proses is dus ook langer, om en by ses weke in die hospital.

Ek het vyf terugslae gehad in die ses jaar periode van my kankerpad. Ek was vir drie jaar aaneenlopend sonder hare. Vir ses maande was my voete so geswel, ek kon nie skoene dra nie. Ek moes met pantoffels gaan werk. Ek het vir nege maande blou kolle op my maag gehad van al die beenmurginspuitings en bloedverdunners.

Ek het baie nagevolge gekry as gevolg van al die behandelings: ‘n onderaktiewe skildklier; ‘n niersteen; twee keer diep veneuse trombose (DVT); my blindederm is verwyder; ek het in vroeë menopouse gegaan; en ek het katerakke op beide my oë gekry.

Volgens dokters sou 2016 my laaste lewensjaar gewees het. Hulle het dood oor my uitgespreek.

Ek het lewe gekies! Wonderwerke gebeur nog!

In 2019 is ek weer getroud met ‘n juweel van ‘n man en ek word twee kinders ryker.

My pad na genesing was geloof, gebed en God se groot genade. Sy genesingskrag het my my deel geword! Ek staan met groot dankbaarheid teenoor ons Skepper dat Hy my lewe bewaar het.

Maar meer nog, Hy het my soveel nader aan Hom getrek en ek lewe nou met ‘n vaste versekering van ‘n ewige lewe. Dit is die grootste wonder van hierdie reis met Hom. As ek ‘n ompad met kanker langs moes stap, nader aan Jesus Christus my Verlosser, dan was daar net wins in, tens spyte van die duwweltjies en pendorings.

Do you have a question?
Ask CANSA
Book a counselling session

CANSA Tele Counselling

 0800 22 6622 Toll Free
 072 197 9305 English and Afrikaans (text only)
 071 867 3530 isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Setswana and Sepedi (text only)

 

  Find Your Care Centre

About Us | Get in Touch

1931 - 2021. 90 Year Anniversary

Sign up to receive news and updates: