The responsibility rests with patients to contact CANSA for assistance. Read more...

SunSmart

Klop Melanoom deur Vroeë Opsporing / Identifisering

Klop Melanoom deur Vroeë Opsporing / Identifisering

English Media Release

18 Mei 2020 – Mense wat met kanker leef, loop ‘n baie hoë risiko van besmetting met COVID-19, en in hierdie tyd is KANSA daarop gemik om mense vroegtydig bewus te maak van simptome om vroeë opsporing aan te moedig. KANSA vertel die verhale van twee oorwinnaars wat met velkanker leef, om te help om die kanker op te spoor en bewustheid te bevorder.

Naniki Seboni – Photo Credit: Zahira Amod & Oncology Buddies

Melanoom, alhoewel dit minder algemeen is as ander velkanker, is dodelik. Die vel se blootstelling aan oormatige ultravioletstraling (UV) in die kinderjare, verhoog die risiko van melanoom later. Dit is ook moontlik om ‘n melanoom te hê, selfs as jy nie ‘n uitermatige hoë UV-blootstelling gehad het nie. Sommige melanome is uiters aggressief en kan baie vining vorder binne enkele maande. Vroeë opsporing van melanoom is die sleutel tot verbeterde oorlewingsuitkomste, met ‘n vyf jaar oorlewingsyfer van meer as 90% indien dit vroeg opgespoor word. Enigiemand, ongeag velkleur, kan melanoom ontwikkel.

Naniki Seboni, van Soweto, deel haar ervaring, “My melanoom is aan die laterale kant van my linkerbeen gevind en het na my liesarea versprei. Wat ek oorspronklik gedink het is ‘n moesie, het uiteindelik tot vier keer so groot geword en het ‘n onreëlmatige vorm gehad”. Sy het altyd ‘n sensitiewe vel gehad en het as kind ‘n paar slegte sonbrandletsels gehad. Sy is deur ‘n neuroloog behandel weens angs en slapeloosheid ná die skok van haar pa se dood, toe die neuroloog die moesie opgemerk het en haar na ‘n dermatoloog verwys het. ‘n Biopsie is gedoen en Naniki is meegedeel dat sy ‘n stadium 3-melanoom het.

Sy was geskok en het gesê: “Waar ek grootgeword het, as jy ooit die word ‘kanker’ gehoor het, het dit gewoonlik met blanke mense te doen gehad.” Sy het gesukkel om haar prognose te aanvaar en vir ses maande het sy nie behandeling ontvang nie. Gelukkig is sy verwys na KANSA se Facebook-ondersteuningsgroep vir kankerpasiënte, (CANSA Survivors – Champions of Hope) Naniki gaan voort: “Ek het ‘n boodskap aan die groep gestuur en algehele vreemdelinge het my ondersteun en my vertel, komaan jong jy moet aangaan, jy is te jonk om toe te laat dat hierdie ding jou verslaan. Ek sidder om te dink hoe anders my toekoms kon gelyk het as ek nie met KANSA in aanraking gekom het nie. KANSA het my lewe letterlik gered.”

Naniki het ‘n operasie ondergaan om die melanoom te verwyder en sorg noukeurig vir haar vel as ‘n oorwinnaar. “Ek gebruik daagliks ‘n hoë SPF-sonskerm vir my liggaam en gesig. Ek het ook ‘n veljoernaal en neem foto’s van enige merk of onreëlmatigheid wat op my vel verskyn om vir my dokters te wys. Ek is bekommerd oor my veiligheid teenoor COVID-19 omdat ek my immuunstelsel moet beskerm. En ek weet dat ek my verhaal oor kankerbewusmaking moet deel, sodat ek ander kan help.”

Luister na onderhoud met Naniki op Kaya FM met David O Sullivan.

Sonia Katzenberg

Sonia Katzenberg, wat reeds meer as 15 jaar met melanoom leef, sê: “Ek onthou ‘n hele paar kere as kind, wat ek ernstig in die son gebrand het. Ons het aan die slaap geraak in die son langs die swembad en ek het letsels opgedoen. Ek het dus nie vir my vel gesorg nie. As ons jonk is, dink ons dat ons onoorwinbaar is, maar as dit eers gebeur, en jy word een van die statistieke, wil jy dit nie hoor nie. Die lewe word skielik kosbaar. Ek sou nooit kon dink dat sonbrand of om in die son te sit so ‘n onherroeplike en gevaarlike impak op jou lewe kan hê nie.”

Gerda Strauss, KANSA se Hoof van Dienslewering, sê: “Vroeë opsporing is die sleutel in die stryd teen melanoom. Terwyl jy tuis is tydens die COVID-19 inperkingstyd, kan jy dit ‘n gewoonte maak om maandelikse velondersoeke te doen met behulp van die ABCDE-riglyne en ‘n vriend of familielid laat kyk na die areas wat buite bereik is soos die kopvel, rug en boudgedeelte. Enige onreëlmatighede moet onmiddellik by ‘n dokter of dermatoloog aangemeld word.”

Strauss het bygevoeg: “Ons is so dankbaar vir die suksesvolle samewerking en vennootskap tussen KANSA, Novartis Suid-Afrika en die Universiteit van Stellenbosch wat gelei het tot ‘n opvoedkundige video om melanoombewustheid te skep en om Naniki en Sonia se verhale te deel en watter velondersoeke om uit te voer. Ons dank aan Drs. Bianca Tod en Willie Visser van die Universiteit van Stellenbosch vir hul waardevolle opvoedkundige insette. En aan Novartis Suid-Afrika vir hul volgehoue ondersteuning van ons SonSlim-veldtog en gesondheidsbewusmakingsaktiwiteite.

“Tydens die inperkingstydperk bevorder ons die gebruik van aanlyn hulpmiddels om mense op te voed en daarom werk ons saam met Miiskin. Jy kan hierdie gratis gebruikersvriendelike toep (app) aflaai om veranderinge op die vel te monitor, maar dit kan nie ‘n doktersbesoek of ‘n professionele diagnose vervang nie. KANSA sien uit na die dag wat die inperkingsvlak na Vlak 3 beweeg, want dan sal u ‘n FotoFinder-ondersoek by ons KANSA-sentrums kan bespreek om onreëlmatighede in moesies op te spoor,” het Strauss afgesluit.

#SunSmart #Melanoma # LowerCancerRisk #SkinCancer

(Vir meer inligting, kontak Lucy Balona, Hoof: Bemarking en Kommunikasie vir KANSA, per e-pos lbalona@cansa.org.za. Bel 011 616 7662 of selfoon 082 459 5230.)

Meer oor KANSA

KANSA bied ‘n unieke geïntegreerde diens aan die publiek en mense geaffekteer deur kanker. As ‘n leidende rolspeler in kankernavorsing word die wetenskaplike bevindinge en kennis wat deur ons navorsing opgedoen word, gebruik vir ons gesondheidprogramme en om ons rol as waghond tot groter voordeel van die publiek te versterk. Ons gesondheidprogramme bestaan uit bewusmaking van gesondheid, siftingstoetse vir kanker en veldtogte oor gesondheidopvoeding, KANSA Sorgsentra wat ‘n wye verskeidenheid van sorg- en ondersteuningsdienste bied aan mense wat deur kanker geraak word, stoma en ander kliniese ondersteuning en organisatoriese bestuur, verhuring van mediese toerusting sowel as a tolvrye nommer wat geskakel kan word om inligting en ondersteuning te bekom. Ons verskaf ook pasiëntesorg en ondersteuning in die vorm van 12 KANSA Sorgtuistes in die hoof metropolitaanse areas vir weg-van-die-huis kankerpasiënte.

Navrae KANSA

Besoek www.cansa.org.za of kontak jou naaste KANSA SorgSentrum, skakel, skakel KANSA tolvry 0800 22 66 22 of stuur ‘n epos aan: info@cansa.org.za. Benewens aanlynhulpbronne en Facebook-ondersteuningsgroepe bied KANSA ook veeltalige ondersteuning aan op WhatsApp: 072 197 9305 vir Engels en Afrikaans en 071 867 3530 vir  Xhosa, Zulu, Sotho en Siswati.  Volg KANSA op Twitter: @CANSA , sluit aan by KANSA op Facebook: CANSA The Cancer Association of South Africa en volg KANSA op Instagram: @cancerassociationofsouthafrica en LinkedIn.


« BACK


Do you have a question?