The responsibility rests with patients to contact CANSA for assistance. Read more...

Men's Health

Beskerm Jou Manlikheid

Beskerm Jou Manlikheid

English Media Release

View Infographics

24 Oktober 2019 – KANSA laat die kollig val op die verskerping van bewusmaking van prostaatkanker wat die mees algemene manlike kanker wêreldwyd en ook in ons land is en die feit dat daar bewyse is dat prostaatkanker beduidend toeneem.* Volgens die Nasionale Kankerregister het Suid-Afrikaanse mans ‘n risiko van 1:19 om gedurende ‘n leeftyd met prostaatkanker gediagnoseer te word. Internasionale en plaaslike navorsing dui daarop dat die risiko vir aggressiewe prostaatkanker groter is vir swart mans. Sien Infografieke…

Prof Riana Bornman, Senior Professor in Navorsing aan die Universiteit van Pretoria se Skool vir Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid en Prof Vanessa Hayes, ‘n Genomikus van die Garvan Mediese Instituut in Sydney, Australië, het in hul navorsing gefokus op prostaatkanker wat gediagnoseer word onder Suid-Afrikaanse mans van swart en Khoisan afkoms.

Bornman verklaar: “Die mees algemene risikofaktore vir prostaatkanker by mans sluit die volgende in: mans wat boorlinge van Afrika is, toenemende ouderdom (50 jaar en ouer) en ‘n familiegeskiedenis van prostaatkanker – aan die moeder of vader se kant. Dit mag wees dat prostaatkanker vinniger groei by swart mans as by wit mans en dat die transformasie van latente tot aggressiewe prostaatkanker vroeër by swart mans plaasvind.

Veral mans in afgeleë dele kan eers laat met gevorderde siektes gediagnoseer word. Mans wat deur middel van ‘n biopsie positief getoets word vir prostaatkanker sal geregistreer word in die Nasionale Kankerregister se databasis in Suid-Afrika, maar tans word gevalle van prostaatkanker wat nie deur middel van ‘n biopsie gediagnoseer is nie geregistreer nie. As gevolg daarvan kan die voorkomsyfer van prostaatkanker wat in Suid-Afrika aangemeld word, heel waarskynlik onderskat word.

Dit beteken dat daar heel moontlik baie meer gevalle van prostaatkanker in Suid-Afrika voorkom as wat die geregistreerde getalle aandui. Jaarlikse toetsing vir prostaatspesifieke antigeen (PSA) is noodsaaklik om prostaatkanker so vroeg as moontlik te diagnoseer. Dit word gedoen deur middel van ‘n eenvoudige bloedtoets en tans word dit nie gereeld genoeg gedoen by mans wat openbare hospitale besoek nie.”

PDF

Die prostaat, wat so groot soos ‘n okkerneut is, is ‘n klier van die voortplantingstelsel wat net onder die blaas geleë is. Prostaatkanker groei dikwels baie stadig en kan gewoonlik nie beduidende skade aanrig nie, maar sekere soorte prostaatkanker is meer aggressief en kan vinnig versprei as dit nie behandel word nie.

Gedurende die vroeë fases van die siekte kan dit moontlik wees dat mans geen simptome ervaar nie. Gedurende latere fases kan die volgende simptome ondervind word: meer gereelde urinering veral snags, probleme om te begin of te stop urineer, verswakte stroom van urinering of urinestroom wat onderbreek word, pynlike urinering of ‘n brandende sensasie tydens urinering of ejakulasie en bloed in die urine of semen. Gevorderde kanker kan erge pyn in die laer gedeelte van die rug, heupe of bobene veroorsaak.

Risikofaktore vir prostaatkanker sluit die volgende in: ouderdom, etnisiteit, familiegeskiedenis, obesiteit, oorgewig en sommige dieetfaktore vergroot ook die risiko. Mans kan hul risiko vir prostaatkanker verlaag deur ‘n gesonde dieet te volg (‘n dieet wat baie vrugte en groente insluit), die handhawing van ‘n gesonde liggaamsgewig, beperking van die inname van rooivleis en suiwelprodukte met ‘n hoë vetinhoud.

Gerda Strauss, KANSA se Hoof van Dienslewering, sê: “Prostaatspesifieke Antigeen (PSA) bloedtoetse is beskikbaar by alle KANSA Sorgsentrums landswyd om te help om prostaatabnormaliteite vroeg op te spoor. KANSA se raad aan mans is om ‘n dokter of ‘n plaaslike gesondheidwerker by ‘n gesondheidfasiliteit te gaan sien en om by hulle meer te hoor oor siftingstoetse. Begin met hierdie toetsing op die ouderdom van 40 jaar as jou risiko vir prostaatkanker hoog is. As jou risiko nie so hoog is, begin om jouself te laat toets vanaf die ouderdom van 45 jaar. Die PSA-toetse in kombinasie met ‘n digitale rektale ondersoek (DRE) is optimaal vir die sifting van prostaatkanker.”

Apteke by Spar winkels is opgewonde oor ‘n nuwe vennootskap met KANSA in ‘n nasionale veldtog wat landswyd aangebied word. Die veldtog bied aan kliënte die geleentheid om PSA siftingstoetse teen ‘n spesiale prys te laat doen. Professionele verpleegpersoneel sal in November hierdie PSA siftingstoetse vir R150 aanbied as deel van KANSA se Mansgesondheid veldtog. PSA toetse is ook beskikbaar by openbare gesondheidsentrums.

“Moedig jou geliefdes, gesinslede en vriende aan om na hul gesondheid om te sien deur die siftingstoetse te ondergaan. Vroeë opsporing kan ‘n mens se lewe red. Kyk ook die nuwe Hello FCB video in samewerking met KANSA. Dit sal ook help om bewustheid te verskerp en om mans aan te moedig om na hul gesondheid om te sien. Mans moet ook weet hoe belangrik vroeë opsporing vir ‘n kankerdiagnose is,” voeg Strauss by.

Testikulêre kanker het ‘n hoë voorkoms onder jong mans in Suid-Afrika met ‘n leeftydsrisiko van 1 in 1 798 (volgens die 2014 Nasionale Kankerregister). Die meeste testikulêre kankers kan vroeg opgespoor word. ’n Knop, klont of swelsel mag die eerste teken wees dat ‘n man ‘n dokter of ‘n professionele gesondheidswerker sonder versuim moet raadpleeg.

Dit is ook belangrik vir jong mans om testikulêre selfondersoeke vroeg na afloop van puberteit te begin doen. Mans tussen die ouderdomme van 15 en 49 jaar behoort elke maand hul testikels te ondersoek – verkieslik nadat hulle gebad of gestort het. Hulle moet voel of hulle enige klonte kan voel wat selfs so klein as ‘n ryskorrel is want dit kan ‘n aanduiding van testikulêre kanker wees. Kry instruksies oor hoe om ‘n testikulêre selfondersoek te doen op KANSA se webwerf.

KANSA belê in navorsing oor die hoë voorkoms van prostaatkanker en is verantwoordelik vir die befondsing van die Suid-Afrikaanse Prostaatkanker Studie (SAPCS) wat gedoen word by die Universiteit van Pretoria. Hierdie studie sal ‘n bydrae lewer tot kennis en begrip van die risiko’s van prostaatkanker, die progressie van die siekte en die uitkomste en resultate wat spesifiek verband hou met die Suid-Afrikaanse bevolking.

KANSA koördineer ook die IRONMAN (International Registry for Men with Advanced Prostate Cancer) studie, wat befonds word deur die Movember Foundation en geborg word deur die ‘Prostate Cancer Clinical Trials Consortium’. Dit sal bydra tot ‘n grootskaalse en wêreldwye studie van 5000 mans. Hierdie studie sal lei tot die evaluering van die behandeling en die uitkomste van pasiënte met gevorderde prostaatkanker.

Strauss sê: “Ons aanbeveling is dat mans hulself beskikbaar moet stel vir berading en ondersteuning. Dit is so maklik as om ‘n afspraak te maak by een van ons KANSA SorgSentrums se maatskaplike werkers landswyd, om by een van ons ondersteuningsgroepe aan te sluit of sluit aan by ons aanlyn ondersteunings-programme soos iSurvivor of ons CANSA Champions of Hope Facebook groep. Jy hoef nie die pad van kanker alleen aan te pak nie,” voeg Strauss by.

* ‘n Referaat wat in 2014 gepubliseer is, het die aantal gevalle van prostaatkanker wat gediagnoseer is asook die sterftes aan die siekte ondersoek. Dit het bewys dat daar ‘n beduidende toename was in vergelyking met vorige jare. (Babb C, Urban M, Kielkowski D, Kellett P. Prostate cancer in South Africa: pathology based national cancer registry data (1986–2006) and mortality rates (1997–2009). Prostate Cancer. 2014;2014.)

Vir meer inligting skakel asseblief vir Lucy Balona, Hoof: bemarking en Kommunikasie by KANSA, stuur ‘n epos aan lbalona@cansa.org.za. Skakel 011 616 7662 of selnommer 082 459 5230.)

Meer oor KANSA

KANSA bied ‘n unieke geïntegreerde diens aan die publiek en mense geaffekteer deur kanker. As ‘n leidende rolspeler in kankernavorsing word die wetenskaplike bevindinge en kennis wat deur ons navorsing opgedoen word, gebruik vir ons gesondheidprogramme en om ons rol as waghond tot groter voordeel van die publiek te versterk. Ons gesondheidprogramme bestaan uit bewusmaking van gesondheid, siftingstoetse vir kanker en veldtogte oor gesondheidopvoeding, KANSA Sorgsentra wat ‘n wye verskeidenheid van sorg- en ondersteuningsdienste bied aan mense wat deur kanker geraak word, stoma en ander kliniese ondersteuning en organisatoriese bestuur, verhuring van mediese toerusting sowel as a tolvrye nommer wat geskakel kan word om inligting en ondersteuning te bekom. Ons verskaf ook pasiëntesorg en ondersteuning in die vorm van 12 KANSA Sorgtuistes in die hoof metropolitaanse areas vir weg-van-die-huis kankerpasiënte.

Navrae KANSA

Besoek www.cansa.org.za of kontak jou naaste KANSA SorgSentrum, skakel, skakel KANSA tolvry 0800 22 66 22 of stuur ‘n epos aan: info@cansa.org.za. Benewens aanlynhulpbronne en Facebook-ondersteuningsgroepe bied KANSA ook veeltalige ondersteuning aan op WhatsApp: 072 197 9305 vir Engels en Afrikaans en 071 867 3530 vir  Xhosa, Zulu, Sotho en Siswati.  Volg KANSA op Twitter: @CANSA , sluit aan by KANSA op Facebook: CANSA The Cancer Association of South Africa en volg KANSA op Instagram: @cancerassociationofsouthafrica en LinkedIn.


« BACK


Do you have a question?

Ask CANSA

Book a counselling session

CANSA Tele Counselling